Van kaalvoet skool toe gaan en strategiese windbreking tot sokkie-dansvereistes en padda-lewenshulp; van internasionale middagslaap-noodsaaklikheid en ongeëwenaarde sokkies tot uitstel-superkragte en pizza-teleportasie – dié was slegs enkele van die kreatiewe onderwerpe waarmee Berné Peters van Somerset-Wes rondgespeel het voordat sy op die wenonderwerp besluit het wat haar ‘n internet-sensasie gemaak het.
Dié gr.7-leerder aan die Laerskool De Hoop het opslae gemaak nadat ‘n video-opname van haar toespraak oor poep sosiale media laat gons het. Die beeldmateriaal het geweldige reaksie ontlok en is reeds meer as ‘n miljoen keer gekyk.
Berné vertel haar ma, Renée, het haar voorverlede Saterdag wakker gemaak en gesê:
“Oukei Nétjie, jy is viral!”
Oor hoe sy oor dié warrelwind-mylpaal voel, het die 13-jarige gedeel: “Oorspronklik, toe die video die miljoen-kerf bereik, kon ek nie regtig begryp hoeveel mense dit is nie. My pa het dit vir my in perspektief gestel: Die DHL-stadion hou 60 000 mense en met 1,2 miljoen kykers sou dit 20 vol stadions wees! Ek voel dit is ‘n seëning en die begin van iets groots.”
Berné vertel die reis het in April begin met die landwye Oppi Tong Af-redenaarskompetisie, waarin sy regstreeks op Zoom deelgeneem het, en Radikale Redenaars, waarvoor sy ‘n video moes instuur. In die laasgenoemde kompetisie het sy deurgedring na die streekseindronde waar sy tweede was. Direk hierna moes sy haar na die Stellenbosch-eisteddfod haas. Haar ma het op die nippertjie gevra of sy ook aan die Helderberg-eisteddfod wou deelneem. Sy het vir al twee ingeskryf, maar die Helderberg-video wat op Saterdag 16 Augustus opgeneem is, het uiteindelik die een geword wat haar beroemd gemaak het.

Sy het met haar ma se hulp in Maart reeds aan die toespraak, navorsing en skryf begin werk. Haar unieke leermetode sluit in om woorde op die spieël te plak en selfs in die stort te oefen en liedjies daarvan te maak. “Ek maak dit werk, of dit nou die moeite werd is of nie,” sê sy.
Haar strategie vir selfvertroue is eenvoudig – goeie voorbereiding en die vertroue dat God lief is vir haar en haar altyd sal help.
Volgens Berné het familie en vriende se reaksies verander nadat die video versprei het. Waar sommige vriende dit voorheen nie indrukwekkend gevind het nie, kyk hulle dit nou verskeie kere en waardeer dit meer. Hoewel haar ouma van die begin af ‘n onwrikbare ondersteuner was wat aan haar talent vir ‘n doel glo, is die res van die familie wel trots, maar nie oormatig entoesiasties nie. Sy verklap dat die familie aan haar vaderskant dit “glad nie verkeerd” ag om oor poep te praat nie.
“Ons gesin is groot daarop, en ja, dis nogal snaaks om by die Peters-kant oor poep te praat.”
Berné koester haar inherente humorsin, wat sy van kleins af ontgin. Sy deel graag dat sy op vyfjarige ouderdom, toe hulle na die Helderberg verhuis het, “Blinkoogsterretjie” in ‘n Kaapse aksent gesing het, wat sy baie snaaks gevind het. Sy en haar ma bring ook gereeld tyd met grappe deur wanneer hulle verveeld raak (wat nogal min gebeur).
“Ek en my ma kompeteer altyd oor wie die beste ‘hasie’-grappe kan vertel. Soos byvoorbeeld: ‘Wat noem jy ‘n hasie in die tuimeldroër? ‘n Spin-hasie.’ ‘Wat noem jy ‘n hasie in die spieël? ‘n Inspir-hasie. Wat noem jy ‘n hasie wat homself oor alles bekommer? ‘n Warryhasie.”
Sy glo haar humorsin, gekombineer met haar liefde vir die verhoog en voordrag, kan wel ‘n loopbaan vir haar word.
Berné probeer nederig bly en ondanks die aandag nie te verander nie. Sy gaan voort met haar normale lewe en weier om net oor poep te praat omdat haar video beroemd geword het.
Berné se raad vir jongmense wat bang is om anders te wees:
“Wees uniek en probeer om nie altyd net in te pas as jy gebore is om uit te staan nie. Gebruik jou Godgegewe talente en moenie na stereotiepes luister nie. Moenie net jou drome najaag nie – jy moet hulle vang!”
Haar lewensfilosofie is eenvoudig: Die lewe gaan nie net oor wen nie, maar dat jy dit geniet en jou beste doen.
“As jy dit gedoen het, het jy jou prys gewen!”





You must be logged in to post a comment.