’nDonker wolk hang vandeesweek oor Raithby Primêre Skool nadat dié baken van hoop se skoolhoof en nog drie mense, onder wie twee van sy gesinslede, in ’n motorongeluk geëis is.
Eugene van Graan (54), sy vrou, Elma (52), hul dogter, Euodia (23) en haar kêrel, Ronwan Adams, het die afgelope Saterdagaand (8 Oktober) op die R44 naby ’n woonwapark buite Stellenbosch verongeluk.
Die Stellenbosch-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die voorval waarin drie van die insittendes op die toneel dood verklaar is en ’n ander later in die hospitaal beswyk het. Luidens ’n polisieverslag het die voorval omstreeks 22:00 op die arteriële roete naby Mountain Breeze-woonwapark plaasgevind en was die wit Ford Figo waarin hulle gery het die enigste betrokke by die een-voertuig-ongeluk. “Die omstandighede ten tyde van die ongeluk word ondersoek,” het die polisie gesê.
Volgens ’n naasbestaande, Graham Hendricks wat as woordvoerder vir die familie aangewys is, word vermoed dat die slagoffers met Van Graan, wat aan hartprobleme gely het, na die hospitaal gejaag het. “Alles voel nog so onwerklik, maar iemand moet sterk staan,” het ’n emosionele Hendricks gesê terwyl hy teen die trane veg.
Hy het voorts gesê dat die familie die verlies ly van Eugene, ’n goeie, geliefde en gesiene skoolhoof; Elma, wat ’n lig in ander se lewe was, altyd gereed was om geselsies aan te knoop of ’n grappie te vertel, en familie opgebou het; en Euodia wat geaard het na haar ma, lewenslustig was en ’n kenmerkende, aansteeklike lag gehad het. Die jongeling wat gedroom het om eendag ’n onderwyser soos haar pa te word, was maande lank in ’n hegte, liefdevolle verhouding met Adams.
Rubin Steyn, Raithby Primêr se waarnemende skoolhoof, sê die skoolgemeenskap treur oor die reuseverlies van ’n kosbare kollega wat die vermoë gehad het om behoorlik met mense te werk en die beste uit hulle te bring, onverpoos gepoog het om sy medemens gelukkig te hou en sy passie tot voordeel van ander uitgeleef het. “Hy laat ’n groot leemte wat gevoel word,” het hy bygesê.
Hy onthou dat hy Sondag omstreeks 06:00 wakker gebel is met die hartverskeurende nuus, wat sy vrou vanweë haar gehegtheid aan Van Graan se eggenoot, tot trane gebring het. Saam het die Steyn-egpaar besluit op ’n gebaar wat gemeenskapslede die geleentheid bied om die geliefde ongelukslagoffers te gedenk. Die paartjie het Maandag (10 Oktober) ’n gedenktafel met foto’s, kerse en blomme buite die ingang van die skool op die hoek van Watsonweg en Shawstraat opgerig. Gemeenskapslede is sedert Maandagmiddag die geleentheid gebied om hul laaste eer aan die slagoffers te betoon waarna die tafel Dinsdagoggend na binne verskuif is om deel te vorm van ’n gedenkdiens waar die nuus amptelik aan die leerders en personeel oorgedra is. Volgens Steyn is daar vooraf deur die provinsiale onderwys-departement asook die plaaslike gemeenskap se Metodiste-kerk vir berading gereël.
’n Jare lange Raithby-inwoner, Elizabeth Willemse, wat die skool besoek het om haar laaste eer aan Van Graan te betoon, het vertel sy is diep geskok deur die verlies. Sy het die nuus ná ’n vroegoggend-biduur deur haar gebedskring se WhatsApp-groep ontvang. Dit het haar genoodsaak om na Van Graan se oudste oorlewende seun, Emilio, op sosiale media uit te reik en haar medelye te deel.
“Dis asof ek hom steeds sien waar hy gereeld op die hoek buite die skool gestaan het om ’n ogie oor alles en almal te hou,” het Willemse gesê.
Britney Gordon, wat as assistent by die skool gewerk het, het meegedeel dat sy Van Graan as ’n pa-figuur beskou het. “Hy kon altyd ’n glimlag op jou gesig sit en jy kon alles met hom deel,” het sy gesê.
Van Graan het in 2013 by Raithby Primêr aangesluit en het die afgelope agt jaar die brandende fakkel van leierskap met toegewydheid en vurige passie gedra. Die Pniël-boorling en Kylemore-inwoner se pad met Raithby Primêr volg nadat die destydse Tonko Bosman Primêre Skool, waarvan hy skoolhoof was, se deure in 2012 gesluit is. Hy het meer as twee dekades lank onderrig aan die skool gegee, wat in die 1950’s op die Heldervalley-plaas gestig is.
Emilio (28) het gesê dat hy en sy jonger broer, Enrico (26), dit een dag op ’n slag neem, soos hul ma hulle altyd in moeilike tye bemoedig het.
Hy het ook almal bedank vir hul omgee en gebede, wat opreg waardeer word.
Volgens Hendricks sal die familie vanaand (Woensdag 12 Oktober) ’n deurry-gedenkdiens wat vir Adams gehou word, bywoon. Die geleentheid vind om 18:00 in sy tuisdorp, Paarl, by Disastraat 14, Klein Nederburg, plaas.




