‘n Saak van poging tot seksuele aanranding word deur owerhede ondersoek ná ‘n beweerde aanval op ‘n leerder by ‘n plaaslike hoërskool.

Volgens die Lwandle-polisie se woordvoerder, sersant Mthokozisi Gama, het die beweerde voorval op Woensdag 30 Julie plaasgevind toe ‘n tienermeisie na bewering deur ‘n gemaskerde manlike verdagte in die skool se kleedkamer geteiken is.

“Die beweerde poging tot seksuele aanranding is na verneem word onderbreek toe die skoolklok gelui het,” het Gama gesê. “Hoewel die skool onmiddellik die beweerde voorval by die polisie aangemeld het, is die saak op Vrydag 8 Augustus deur die 14-jarige slagoffer en haar ma by die Lwandle-polisiekantoor aangemeld en dit word deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.”

Hoewel gerugte bestaan dat die vermeende aanvaller die slagoffer met ‘n skerp voorwerp gedreig het, kon die owerhede dit nie bevestig nie.

Volgens Gama is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die provinsiale onderwysdepartement (WKOD), het by navraag erken dat die departement bewus is van die “ernstige en kommerwekkende bewering wat deur die polisie ondersoek word”.

“Die skool het dit [die beweerde voorval] by die WKOD aangemeld en die voorgeskrewe protokol vir die aanmelding van sodanige mishandeling gevolg. Sielkundige ondersteuning is onmiddellik aan die slagoffer verskaf en is steeds aan die gang. ‘n Buite-nie-regeringsorganisasie [NRO] verskaf ook ondersteuning.

“Die skool het met die polisie en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) geskakel. Verhoogde polisie-sigbaarheid is versoek. Die polisie gaan ook ‘n toespraak aan alle leerders lewer,” het Hammond gesê.

Met die kollig op leerderveiligheid het die skool sy sekuriteitsmaatreëls hersien en opdrag gegee dat leerders slegs toegelaat word om die klaskamer te verlaat met ‘n toelatingskaart en in die geselskap van ‘n medeleerder, het Hammond bygesê. “Die hoofhek word reg deur die dag bewaak en ‘n aanlynperioderegister is ingestel om leerderaanwesigheid deur die dag na te spoor. Alle skoolpersoneel is in die “abuse no more”-protokol opgelei, wat die protokol is om in gevalle van mishandeling te volg. Hoewel [hierdie] ‘n geïsoleerde voorval is, is die bewerings uiters kommerwekkend.”

Volgens Hammond is daar vanjaar ‘n begroting van R75 miljoen vir skoolsekuriteit in die algemeen aan die WKOD se Veilige Skole-program toegeken om ‘n veiliger leeromgewing vir leer-

ders in die provinsie te skep. “Hierdie program ondersteun die voorsiening van 82 wetstoepassing-skoolhulpbronbeamptes in hoërisikoskole, die subsidiëring van vakansiesekuriteit by skole in gebiede waar misdaad hoog is, skoolintervensie- en gedragsprogramme, en ons Veilige Skole-oproepsentrum.

Die WKOD dring daarop aan dat enigiemand wat bewus word van ‘n voorval van mishandeling of aanranding in ‘n Wes-Kaapse skool dit onmiddellik by die polisie en by ons Veilige Skole-oproepsentrum by 0800 45 46 47 tolvry vir hulp aanmeld.”

Ada Buys, die bestuurder van Patch (die Helderberg-sentrum vir kinderslagoffers van seksuele misbruik), doen in die lig van die beweerde voorval ‘n beroep op ouers om ‘n vertrouensverhouding met hul kinders te bou. Sy moedig hulle aan om hul kinders te leer om goeie vriende vir mekaar te wees en uit te kyk vir mekaar. Dit sluit in om nie alleen toilette toe te gaan nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article