St. George's se Kyle Southon en Sir Lowrians se Ayanda Makhundayi by die loting.
St. George’s se Kyle Southon en Sir Lowrians se Ayanda Makhundayi by die loting.

Vyftien jaar se wag is verby … Die St. George’s-rugbyklub trek die maroen truie aan om gasheer te speel vir hul Paasnaweektoernooi, en die loting het reeds die vonke laat spat.

Damin Linneert van Sir Lowrians tydens die loting vir die Paasnaweektoernooi.
Damin Linneert van Sir Lowrians tydens die loting vir die Paasnaweektoernooi. Foto’s: Barend Williams

“Tussen daardie wit lyne sal geen vriendskaplikheid in die wedstryde wees nie,” sê Reuben Riffel, die organiseerder van die toernooi.

Die geleentheid is besonder betekenisvol vir die plaaslike klub, wat sy 85ste bestaansjaar vier. Dit is die eerste keer sedert 2011 dat die toernooi gehou word – ‘n 15 jaar lange onderbreking, wat die opwinding net verhoog.

“Ons het die laaste keer in 2011 gewen en wil vanjaar dieselfde doen,” sê Riffel met vertroue.

St George's-leiers Irven October, Reuben Riffel en Isador Armien by die loting-seremonie.
Die staatmakers van St George’s bou aan die toekoms van Strand-rugby terwyl hulle die verlede eer met die Paasnaweektoernooi. Van links: Irven October, Reuben Riffel en Isador Armien.

Die loting het by die nuutgestigte Irven October-museum in Rusthof onder sewe deelnemende spanne plaasgevind. Benewens die gasheer sal mede-Helderberg-klubs Strand United, Sir Lowrians en Faure meedoen, tesame met die Wes-Kaapse bure Whistling Wheels van Eersterivier en die Boland-maats Evergreens van Grabouw en Kleinmond. ‘n Agtste klub moet nog aangekondig word.

Ses rugbykapteins van Evergreens, Faure, Strand United, Kleinmond, Sir Lowrians en St George's.
Die kapteine wie hul spanne sal lei (van links): Lorenzo Arendse (Evergreens), Dominique Gewedle (Faure), Tyrone Jones (Strand United), Ganfried May (Kleinmond), Ayanda Makhundayi (Sir Lowrians) en Kyle Southon (St George’s). Williams Kamter van Whistling Wheels (afwesig).

Die aksie begin op Woensdag 1 April om 19:15 by die Gustrouw-sportterrein wanneer Whistling Wheels teen die onbekende agtste span speel.

Williams Kamter van Whistling Wheels tydens die loting-seremonie.
Williams Kamter van Whistling Wheels hoef nie te weet teen wie hy speel nie – sy fokus is eenvoudig: vyf punte oor die doellyn plaas.

Dit word opgevolg deur ‘n opwindende plaaslike derby om 21:00 tussen St. George’s en Sir Lowrians.

St. George's se Kyle Southon en Sir Lowrians se Ayanda Makhundayi by die loting.
Vriendelike gesigte nou, maar op Woensdag 1 April sal Kyle Southon (St. George’s) en Ayanda Makhundayi (Sir Lowrians) mekaar by die Gustrouw-sportterrien as vyande ontmoet wanneer hul spanne mekaar in ‘n plaaslike derby pak.

Donderdag (2 April) speel Strand United teen Kleinmond (19:15) en Evergreens teen Faure om 21:00. Die halfeindstryd is op Saterdag 4 April en die wenners word die Maandag gekroon.

Strand United se Tyrone Jones en Kleinmond se Ganfried May by die loting-seremonie.
Op sy eie agterplaas sal Tyrone Jones (Strand United) nie toelaat dat Ganfried May (Kleinmond) die wet voorskryf nie.
Lorenzo Arendse (Evergreens) en Dominique Gewedle (Faure) in groen truie tydens loting.
Lorenzo Arendse (Evergreens) en Dominique Gewedle (Faure) mag nou in dieselfde groen geklee wees, maar hulle eerste ronde-botsing sal geen vriendskaplikheid toon nie.

Die toernooi beloof harde duikslae, asemrowende drieë en ‘n fees van 85 jaar se rugby-erfenis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article