Die Helderberg betreur die verlies van Neels du Toit, ‘n gerespekteerde en legendariese oudrugbyspeler en geliefde figuur in die streek se rugbykringe.
Die Van der Stel-pensioentrekker was ‘n toegewyde bestuurslid van Helderberg-rugbyklub en ywerige rugbyskrywer, wie se naam oor die jare sinoniem met dié van die geliefde gemeenskapskoerant, DistriksPos & Helderberg Gazette geword het.
Volgens Neels se seun, Jacques, is sy pa Dinsdagoggend (12 Augustus) tuis weens natuurlike oorsake in die ouderdom van 82 jaar oorlede.
“Hy was ‘n goeie pa, wie se liefde in alles wat hy gedoen het gevoel kon word. Hy was my beste vriend. Hy was altyd daar, deur dik en dun. Hy het my onvoorwaardelik lief gehad en onwrikbaar ondersteun,”
het ‘n emosionele Jacques gesê.
“Hy was geweldig.”
Neels is in die Booth Memorial-hospitaal in Oranjezicht, Kaapstad, as een van vier kinders gebore. Sy ouers is albei op 60-jarige ouderdom oorlede. Hy het ook sy ouer broer, Charl, op 63 verloor, en meer onlangs sy jonger suster, Hester, wat op 81 oorlede is. Hy word ook oorleef deur sy jonger broer, Dawie van Wellington.
Neels het sy skoolloopbaan in 1949 aan Parow Voorbereidende Skool voortgesit en later as gr. 5-leerder by die Laerskool Parow-Noord aangesluit. Hy is in 1956 na die Hoërskool Tygerberg en in Julie daardie jaar na die Hoërskool Hottentots-Holland toe hul gesin na die Strand verhuis het. Nadat hy in 1960 gematrikuleer het, het hy by Old Mutual se hoofkantoor in Pinelands begin werk en in 1962 nege maande verpligte militêre diens gedoen. Aangesien die maatskappy hom nie ná sy militêre diens wou betaal nie, het hy bedank en ’n werksgeleentheid by die AECI-dinamietfabriek aanvaar. Neels het later ’n verkoopsrigting ingeslaan – eers as meubelverkoopsman, later as takbestuurder, kredietbestuurder en nog later weer as verkoopsman (kommersiële reisiger) tot hy 53 jaar oud was en toe besluit het om af te tree.
Die kranige rugbyman het met sy 80ste verjaardag twee jaar gelede aan dié koerant gesê dat dit sy lewensdoel was om as deel van die Helderberg-rugbyklub te wees en sy klubmaats te dien (“Rugbylegende met verjaardagpartytjie gevier,” 25 Januarie 2023). Hy het sy passie vir die kontaksport ná skool begin uitleef toe hy as lid van die o.19-span by die Somerset-Wes-rugbyklub aangesluit het. Hy het in 1966 na die Gordonsbaai-rugbyklub geskuif , waar hy van 1967 gespeel en van 1968 tot 1998 in die bestuur gedien het – eers as wedstryd-sekretaris en van 1981 tot 1986 as klub-voorsitter. Neels het toe aanbeweeg om as stigterslid van die nuutgevormde Helderberg-rugbyklub saam met ander vername stigterslede – Bokkie Carstens, JC Kloppers, Brian Walley, Douglas Holwill, Jan F. le Roux en wyle Ludwig Andersen – te dien. Hy het vanaf 1997 tot onlangs as die klub se wedstrydssekretaris gedien.

Hy het voorheen vertel dat hy beplan het om betrokke te bly by die klub totdat sy as in die “Castle Corner” gestrooi word.
Die altyd geesdriftige Neels het geglo die resep vir ‘n lang lewe is geloof, gebed, geen rook nie en baie water drink (nooit brandewyn nie).
Bokkie Carstens het in lDinsdag 12 Augustus in ‘n inskrywing op Facebook gesê: “Helderberg-rugbyklub groet een van sy grootste legendes in sy geskiedenis. Rus sag (Oom) Neels du Toit, jou voetspore lê diep getrap. Ons innige meegevoel met Rene, Jacques en familie.”

Die koerant se vryskutfotograaf, Peter Bee, het in liefdevolle herinnering van die Neels gesê: “Ek het Neels 29 jaar gelede ontmoet toe ek my eerste Helderberg-wedstryd gedek het. Dit het nie lank gevat om te besef dat hier ‘n man was wat sy lewe toegewy het aan sy geliefde klub en spelers nie, waarvan so baie deur die jare aanmoediging en ondersteuning ontvang het. Om te besef dat Neels nie meer by die Charles Morkel-stadion sal wees nie, bring groot hartseer, maar sy wonderlike nalatenskap sal vir ewig voortleef. Ek gaan jou mis, Neels.”
DistrikPos & Helderberg Gazette se voormalige redakteur, Mark Stuart, het gesê: “Ek het vir baie jare saam met Neels gewerk toe ek die sportredakteur by DistriksPos was. Gedurende daardie tyd het hy persoonlik, sonder uitsondering, handgeskrewe verslae oor Helderberg-rugbyklub se eerste span se wedstryde afgelewer. Hy was altyd beleefd, vriendelik en entoesiasties oor die rugbywedstryde wat oor die naweek gespeel is. Hy was welbekend en geliefd deur jong en ou lede van die klub, sowel as deur spelers en administrateurs van teenstaanderklubs. Hy laat ‘n groot leemte en sal baie gemis word.”
Die koerant se joernaliste wat hegte werkverhoudings met Neels opgebou het, het bygevoeg dat sy vriendelikheid en gereelde besoeke gemis sal word. Hulle sal veral sy Maandagoggend-geselsies mis wanneer hy uit gewoonte by die koerant se kantore ingeloop het om sy wedstrydverslag af te lewer en oor rugby en vooruitsigte, plaaslike nuus en allerande ditjies en datjies te gesels.
“Oom Neels was ‘n ware staatmaker; met elke rugbyseisoen was hy klokslag elke Maandagoggend by die kantoor met sy berigte. Hy was altyd vriendelik, het graag oor rugby gesels en sy liefde, passie en toewyding vir die Helderberg-rugbyklub was iets mooi om te aanskou.
“Sy bydrae oor die jare heen het tot die sukses van die koerant gelei. Ons sal sy vroegoggend besoeke, warme geselsies en glimlag, asook die liefde vir klubrugby mis. Sy sterfte laat ‘n groot leemte, nie net by die koerant en klub nie, maar ook in die Helderbergse sportgemeenskap,” het Tasmin Cupido, DistriksPos & Helderberg Gazette se redaksionele uitgewer, gesê.






You must be logged in to post a comment.