Lucian Julius (14) Bring Bemoedigende Tweede Enkelsnit 'Ek kies om te glo' uit
Lucian Julius (14) keer terug met sy tweede enkelsnit “Ek kies om te glo”, ‘n kragtige boodskap dat ouderdom nie jou drome bepaal nie.

Plaaslike tiener stel bemoedigende tweede enkelsnit bekend

Lucian Julius (14) Bring Bemoedigende Tweede Enkelsnit 'Ek kies om te glo' uit
Lucian Julius (14) keer terug met sy tweede enkelsnit “Ek kies om te glo”, ‘n kragtige boodskap dat ouderdom nie jou drome bepaal nie.

“Hulle sê ek’s nog jonk; ek moet wag vir my tyd.”

Só lui die inleiding van die 14-jarige Lucian Julius se tweede enkelsnit, “Ek kies om te glo”, en vir dié jong kunstenaar van die Kom is dit nie ‘n versko­ning nie – dit is ‘n uitdaging.

“Almal sien my net as ‘n 14-jarige. Wat as ek tot meer in staat is? Voordat jy wag vir ander mense om in jou te glo, maak die keuse om in jouself te glo. Jou ouderdom bepaal nie of jy jou drome gaan bereik nie ­– jou passie, dryf en geloof in God en jouself gaan dit bepaal,” sê Lucian.

Die liedjie is geskryf vir mense wat geval het, maar weer opgestaan het. “Ek het al mense in my lewe gehad wat my onderskat het, persone wat my in myself laat twyfel het. Ek het gekies om in myself te glo. Nou wil ek daardie boodskap aan ander oordra – jong- en grootmense.”

Dié Hoërskool Strand-leerder vergelyk dit met sy ervaring op die atletiekbaan. “Ek kom nie altyd eerste nie, maar jy doen jou beste, druk deur en volhard tot aan die einde.”

“Ek kies om te glo” verskil merkbaar van sy debuut-enkelsnit oor tienerverlokkendheid en vriendskap (“Strand teen hits all the right notes,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 2 April 2025). “Hier­die liedjie is baie meer gefokus en doelgerig. Ek wil ‘n generasie aanmoedig wat moet weet hulle is meer as ‘Gen-Z’ of ‘Gen-Alpha’ – mense wat die wêreld deur hul eie selfvertroue en hart kan aanpak.”

Vir Lucian is geloof die grondslag van alles. Hy dra Filippense 4:13 altyd in sy hart: “ ’Ek is tot alles in staat deur God wat my krag gee.’ Dit beteken ek hoef nooit bang te wees nie. Ek wil my musiek met die wêreld deel – sonder vrees, omdat ek weet ek is nie alleen nie.”

Die terugvoer het hom diep geraak. Oproepe van trotse familielede, vriende wat verras was toe dit op Smile FM en RSG gespeel het, en onderwysers wat in trane was. Om sy musiek op alle stroomdienste beskikbaar te hê, voel steeds onwerklik.

“Om te weet jy doen iets besonders, laat jou goed voel. Dit voel lekker, maar ek wil nederig bly en net aanhou werk om musiek te maak waarna mense gaan luister en dit geniet.”

Sy Strand-gemeenskap bly ‘n dryfveer. Sy pa se woorde, “know your roots”, is ‘n anker. “Die liefde op sosiale media motiveer jou om beter te doen. Nie net om jou eie naam op die internasionale verhoog te hê nie, maar Strand ook.”

Wat volgende is, hou hy naby aan die bors. ‘n Nuwe liedjie is op pad en nuwe optree-geleenthede is op sy wenslys. “Die verhoog is vir my ‘n tuiste.”

Aan jong kunstenaars wat hul stemme wil laat hoor, het Lucian ‘n eenvoudige boodskap: “Hou aan sing. Moenie toelaat dat ander jou vreugde wegneem nie. Glo in jouself en waartoe jy in staat is. Weet dat God drome in jou hart geplaas het en dat jy tot alles in staat is deur God wat jou krag gee. Maak gebruik van jou geleenthede.”

Hy weet waarvan hy praat. “Mense sien net ‘n 14-jarige wat op die verhoog kom as ek opstap, totdat hulle my hoor. Dan weet hulle ek hoort daar.”

  • Volg Lucian op Instagram en Facebook onder Lucian Julius Official, of soek na sy blad op YouTube, Spotify, Apple Music en Amazon Music onder sy naam.
  • “Ek kies om te glo” is vervaardig deur LD Media House en Laurenzo Davids, met insette van Jesme Swarts.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article