Om ‘n opstel by die skool te skryf is vir sommige leerders moeilik omdat dit heelwat konsentrasie en verbeelding verg om dit behoorlik te doen.
Om ‘n hele boek te skryf, is egter ‘n ander storie. Dit verg nie net konsentrasie oor ‘n lang tydperk nie, maar ook uitgebreide verbeelding, uithouvermoë, vasbyt, toegewydheid en ‘n groot hoeveelheid geduld.
Die elfjarige Holly Featherstream (haar skrywersnaam) het dit alles reggekry in die jaar waarin haar eerste boek die lig gesien het.
Holly is ‘n entoesiastiese haasliefhebber wat twee lewendige hasies en ‘n stuk of 20 speelhasies het.
Haar liefde vir hierdie pragtige diertjies het haar so geïnspireer dat sy ‘n boekreeks begin skryf het waarin hase die hoofrolle speel.
Haar eerste boek, Forest of Fire, is pas van die drukker af. Die bekendstelling is op Saterdag 3 Oktober om 11:00 by Sunset Books in Strand met ‘n radio-onderhoud op Woensdag 23 September om 12:00 op Radio Helderberg. Forest of Fire is die eerste van ses boeke in die reeks “Defenders”.
Die boek handel oor ‘n dorpie met warrior-konyne wat van uitwissing gered moet word en die wedervaringe van ‘n groepie inwoners op hul reis na die Forest of Fire.
Die vertroue en samewerking onder die konyne bevat heelwat meer as net ‘n oppervlakkige verhaal van ‘n denkbeeldige konyngemeenskap. Die interaksie van die verskillende karakters met elkeen se eiesoortige persoonlikheid bied die leser heerlike verrassingselemente.
Van karakters met sterk leierskap tot weeskonyntjies met onderliggende vrese, kry Holly dit reg om die verhaal oor die ekspedisie ‘n byna lewende ondervinding vir die leser te maak.
Om op slegs 11-jarige ouderdom reeds vier boeke te voltooi, is ‘n buitengewone prestasie – hou hierdie ontluikende skrywer dop.
- Die boek is by Sunset Books in Kusweg, Strand, te koop of kan by 068 385 2563 bestel word.





