Wyle Pierre Volschenk (50), die stigter van Pierre Volschenk- verfkontrakteurs.

Die Helderberg betreur die verlies van die verfsakereus Pierre Volschenk.

Dié geliefde Strand-inwoner en gerespekteerde sakeman is op Saterdag 25 Oktober op 50-jarige ouderdom oorlede.

“Pierre was ‘n omgeemens en sou ander mense altyd help. Hy het ‘n groot hart en ‘n oop hand gehad en het altyd ander mense se belange op die hart gedra,” het sy suster Janine Atsell gedeel.

Volschenk het sy laerskooljare by die Laerksool Lochnerhof deurgebring en was daarna in Bellville Tegniese Hoërskool, waarna hy in die weermag gedien het. Hy het direk daarna begin om lemmetjies en draad by wonings en fabrieke vir die beskerming van eiendom op te rig.

Hy het gou besef daar is ‘n groot behoefte in die mark vir professionele verfwerk en het Pierre Volschenk-verfkontrakteurs in 1994 gestig.

Die onderneming is in 1999 deur Somerset-Wes se Kamer van Koophandel as die Sakeonderneming van die Jaar vereer. Die onderneming het in 2012 opnuut erkenning ontvang toe dit as finalis vir die Sakeonderneming van die Jaar aangewys is. Gedurende 2003 en 2004 het hy ‘n prestasietoekenning vir “Beste Volume-groei” van Prominent Paints ontvang.

Volschenk was bekend vir sy onwrikbare toewyding aan gehalte, lojaliteit, professionaliteit en integriteit. Sy klante en die uitnemende diens wat hy gelewer het, was die hoeksteen van sy sakefilosofie.

Hy was ‘n toegewyde werker wat sy klante se behoeftes altyd voorop gestel het. Hy het ‘n skerp sakesin gehad en het duidelike visie en aspirasies gekoester.

Danksy die onvoorwaardelike steun van sy gesin en werknemers het sy passie vir die bedryf ontluik en kon hy die onderneming tot sy huidige omvang uitbou.

Pierre het gereeld skole, tehuise en verskeie gemeenskapsorganisasies ondersteun en was altyd bereid om hulpvaardig op te tree waar nodig. Hy het die hart van vriende, familie, werknemers en die Strand-gemeenskap verower.

Sy nalatenskap sal gedefinieer word deur sy professionaliteit, integriteit, eerlikheid, opregtheid, gehaltewerk en diepgevoelde liefde vir sy medemens.

“Ek het groot bewondering vir sy mildelikheid, sy liefde en omgee vir ander, sy lewenslus en toewyding aan sy familie asook sy vasberade wil om elke dag ten volle te leef,” het Atsell met waardering opgemerk.

Volschenk word oorleef deur sy twee seuns, Jan Hendrik Volschenk en Pierre Volschenk (junior), sy ma, Antoinette Volschenk, en sy suster Janine Atsell.

Die familie het namens hulle en die werknemers hul opregte dankbaarheid teenoor die publiek vir drie dekades van lojale ondersteuning uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article