‘n Pa en seun met broosbeensiekte lê in die hospitaal en wag op operasies ná ‘n botsing in Strand die afgelope naweek.
Die voorval het Saterdag (13 Junie) op die hoek van Elfdestraat en Broadlandspad in Strand plaasgevind toe ‘n swart Mitsubishi en ‘n blou Volkswagen Citi Golf gebots het.
Volgens Mark Bosch, ‘n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens, is die Strand-brandweer om 14:32 na die toneel ontbied.
Met hul aankoms het die span drie volwasse mans vasgekeer in die Golf aangetref. Die brandweerdiens, bygestaan deur Metro-reddingspanne, het die pasiënte bevry en aan GBMed- en Metro-ambulanspersoneel oorhandig.
Die beseerdes is na hospitale vervoer en die toneel is om 16:25 afgehandel.
Toufeeka Beukes, ‘n familielid van twee van die mans, sê haar seun Junaid (20) en sy pa Enrico Plaatjies (44) was op pad om ‘n brood te koop toe die botsing plaasgevind het.
“Ek kan nie sê wat gebeur het nie, maar vyf minute nadat hulle weg is, het ek ‘n oproep ontvang om te sê hulle was in ‘n ongeluk,” sê Beukes.
Sy het haar na die toneel wat “nie ‘n mooi prentjie” was, gehaas. “Ek het gedink hulle is dood.”
Sy verduidelik beide Junaid en Enrico ly aan osteogenesis imperfecta (OI), ‘n genetiese afwyking wat veroorsaak dat bene maklik breek.
Op die toneel kon Enrico nie met haar praat nie, aangesien hy sy tong amper afgebyt het en sy kakebeen asook sy bene gebreek was. Junaid se regterheup is ontwrig en sy linkerarm gebreek – só erg dat die paramedici hom morfien moes toedien. Beukes se trane loop wanneer sy haar seun se gille in die ambulans onthou.
Albei is na die Tygerberg-hospitaal vervoer, waar hulle tans mediese behandeling ontvang.
Hoewel Beukes dankbaar is dat haar lewensmaat en seun nog lewe, erken sy die pad vorentoe is nog lank – veral weens hul OI. Sy vertel dis nie die eerste keer dat hul bene breek nie.

“Ek wil net hê mense moet veilig op die pad wees, want jy weet nooit wie in die ander voertuie ry nie,” sê sy.
Beukes doen ‘n beroep op die persoon wat glo die botsing veroorsaak het, om verantwoordelikheid te aanvaar.
Die Strand-polisie het ook omstreeks 15:20 op die toneel gereageer.
Kapt. F.C. van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, sê ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
Dit word beweer dat een van die bestuurders dronk bestuur het, maar geen asemtoets is gedoen nie, aangesien beide bestuurders mediese behandeling ontvang het. “Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek,” sê Van Wyk.
Die ondersoek duur voort en niemand is in hegtenis geneem nie.





You must be logged in to post a comment.