“Ons mense is al so gatvol vir hierdie dreinprobleem, want elke keer wanneer dit aangemeld word, is dit dieselfde probleem!”
Só sê Evolino Simons, ‘n inwoner van Broadlandspark in Strand, waar rioolstortings weens rioolverstoppings die gebied al jare lank teister.
Volgens inwoners bestaan die probleem al jare, maar net voor Kersfees 2025 het dit breekpunt bereik as gevolg van nuwe pype wat in Bosduifstraat gelê is.
“Elke drein in Petunialaan wat reg rondom Broadlands loop, loop oor, en gevolglik vloei die water in strate soos Finkstraat, Madeliefiestraat, Bosduifstraat en Daisyweg,” verduidelik Simons. “Die ontlasting vloei in die pad af.”
Hierdie oorstromings het ‘n kettingreaksie van probleme veroorsaak wat elke aspek van gemeenskapslewe raak.
Die onmiddellike fisiese impak is oorweldigend: strate vol water wat groen word en ‘n vieslike reuk vrystel wat so skerp is dat inwoners hul deure en vensters moet toehou om kos te kan voorberei.
Die toestande dwing families tot sosiale isolasie. “Ek kan weens die reuk en vlieë nie mense ontvang nie,” verduidelik Ramcha Jakobs van Petunialaan.

Plaaslike ondernemings ly ook onder die krisis omdat klante oor rioolwater moet loop om aankope te doen. “Dit affekteer my verkope, want mense wil nie staan en wag vir hul goed in hierdie reuk nie,” sê Galeema Strauss, wat vis en tjips uit haar huis in Petunialaan verkoop.
Die gesondheidsimpak bekommer inwoners egter die meeste. Gavin James, wat saam met sy suster se drie kinders in die gebied bly, sê die rioolstortings veroorsaak dat die kinders maagprobleme opdoen.
“Ons kinders raak siek en ons moet hulle aanhoudend kliniek toe neem,” het hy verduidelik.
Die krisis raak veral kwesbares soos bejaardes erg. Strauss se ma is rolstoelgebonde en die hele familie het volgens haar diarree opgedoen weens die gesondheidsrisiko.
Hierdie toenemende gesondheids- en lewensgehalte-krisis het inwoners genoop om hulp te soek, maar hulle beweer die Stad Kaapstad se reaksie is onvoldoende.
Inwoners sê hulle het die probleme talle kere by die Stad aangemeld, maar slegs tydelike oplossings gekry. “Hulle kom uit en pomp ‘n bietjie, maar môre is dit dieselfde probleem,” sê Jakobs.
Nog meer frustrerend vir inwoners is wat hulle beweer ‘n gebrek aan kommunikasie van Wyk 100 se raadslid, Sean Stacey, is. “As ons die probleem by hom aanmeld, hoor ons nooit weer van hom nie,” beweer inwoners.
As gevolg van hierdie gebrek aan amptelike hulp het inwoners hulself georganiseer deur ‘n WhatsApp-groep waar gemeenskapsleiers in Broadlandspark klagtes hanteer.
Die kumulatiewe impak van jare se onopgeloste probleme, gepaard met wat inwoners as ‘n gebrek aan waardigheid in die Stad se reaksie beskou, het ‘n gevoel van vervreemding geskep.
“Ons is mos nie diere nie!” sê James, wat die frustrasie van baie inwoners verwoord.
Simons gaan verder en sê die gemeenskap noem Petuniastraat ‘n “k**-pad” – ‘n teken van hoe diep die vernedering strek. “Dis onmenslik en ons is mense met waarde wat hier in Broadlandspark bly.”
Francine Higham, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê egter hulle is nie van ‘n toename in gevalle van watergedraagde siektes bewus nie, maar beveel aan dat inwoners wat simptome ervaar die naaste gesondheidsorgfasiliteit besoek.
Stacey ontken die bewerings teen hom en voel dis onregverdig. Hy sê almal weet hy het ‘n “oopdeurbeleid wat kommunikasie betref”. Hy verwys na onlangse rioolverstoppings wat Vrydag 23 Januarie onder sy aandag gebring is, en Sondag 25 Januarie ondersoek is.
Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, erken die Stad is van die probleem bewus en skryf rioolverstoppings toe aan “vreemde voorwerpe in die rioolstelsel” sowel as ‘n rioolineenstorting wat ontdek is terwyl sand uit die netwerk verwyder is.
“Tans is daar ‘n ineenstorting in ‘n gedeelte van die rioolnetwerk. Dit is gevind terwyl spanne besig was om oormatige hoeveelhede sand uit die netwerk te verwyder,” verduidelik Badroodien.
Hy sê die Stad het oor 12 maande 107 diensversoeke vir Broadlandspark ontvang en neem “enige rioolstorting uiters ernstig op”. Die Stad is besig om noodkontrakteurs vir herstelwerk te betrek.




