Die dodelike N2-“oorsteek” in Macassar het vanoggend (Woensdag 4 Februarie) nog ‘n voetganger se lewe geëis.
Dit is die tweede sterfgeval daar in minder as ‘n maand.
Volgens ‘n Macassar-polisiewoordvoerder het die ongeluk om 06:05 net ná Macassarpad op die N2 agter Rubenpad in Macassar gebeur toe ‘n onbekende 37-jarige man oor die N2 gehardloop het.

‘n Wit Volkswagen Polo, wat in die rigting van Kaapstad op die N2 gery het, het die man tref.
Die polisie het op die toneel aangekom waar die man dood verklaar is.

Die ongeluk volg ‘n soortgelyke voorval waar Edwina Sinkfontein, ‘n ma van drie, op Sondag 18 Januarie gesterf het toe sy ook die N2 oorgesteek het. (“Ma van drie op N2 doodgery“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 28 Januarie).
Sinkfontein se dood het die beweerde gevaarlike toegang vanaf Macassar na die N2-snelweg weer in die kollig geplaas.
Leticia Poggenpoel, Sinkfontein se niggie, het vroeër oor die gevaarlike toegang gewaarsku : “Hoekom kon die mense wat in beheer daarvan is, nie ná die eerste dood dringende maatreëls ingestel het nie?” vra Poggenpoel in trane. “Hoeveel lewens moet nog verloor word voordat dit ‘n prioriteit word?”
Ten spyte van beweerde beloftes vir veiliger infrastruktuur, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) bevestig dat hy tans besig is met ‘n tender vir die verskaffing en oprigting van heinings en mure in die omgewing van die N2 naby Macassar nadat die vorige heinings as gevolg van diefstal verdwyn het en weens vandalisme beskadig is. (“Nuwe heining kom in Maart“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 4 Februarie).

Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag in verband met vandag (Woensdagoggend) se ongeluk.





You must be logged in to post a comment.