“Wat die seerste maak, is hoe vier jy een kind se geboortedag terwyl jy afskeid moet neem van die ander?”
Só vra Katriena Jack, ‘n 33-jarige ma van Macassar, wat een van haar drie jong kinders weens ‘n tragiese ongeluk aan die dood afgestaan het.
Die noodlot het Sondagaand (15 Februarie) toegeslaan toe ‘n motor in hul Wendy-huis in die Smartie Town-gemeenskap vasgejaag het. Die voertuig het na bewering deur hul slaapvertrek gebreek net toe die gesin gereed gemaak het om te gaan slaap.
Die hartverskeurende verlies van haar oudste, die negejarige Dorian, kom slegs dae voor sy jonger boetie se sesde verjaardag.

Jack vertel dat hulle vroeër daardie noodlottige aand besig was met Dorian se huiswerk omdat hulle die kerkdiens bygewoon het. “Wanneer ons Sondae kerk het, dan eet ons en dan speel hy. Hy’s een wat heeldag saam met sy tjommies kan speel, dan kom hy so vroegaand terug. Maar snaaks genoeg was hy Sondag rustig – die hele tyd by die huis; heeltyd rondom ons as familie.”
Volgens haar het Dorian voordat hulle gaan slaap het, besluit dat hy die volgende dag verder sou gaan met sy skoolwerk. “Dorian was op daai oomblik ‘n gelukkige kind,” onthou sy. “Ek en sy sustertjie het sjokolade op ons bed geëet en hy’t gesê: ‘Mammie, gee vir my ook’. Ek het gesê nee, ons moet die helfte vir sy pa hou want dis sy pa se sjokolade. Hy’t toe gesê: ‘Nee, gee net nog so ‘n laaste stukkie vir my’.
“Hy het sy laaste stukkie saam met my en sy sustertjie geëet. Toe sê ek hy moet gaan slaap want môre is skool,” vertel Katriena. “Ek en my dogtertjie het op die bed aan die een kant van die vertrek gelê, my man het aan die voetekant gestaan en die twee seuns het op ‘n ander bed aan die ander kant geslaap. Dorian het net in die kooi geklim en langs sy broer gaan lê toe die noodlot tref.”
‘Daar val die kar!’
Die oomblikke voor die tragedie is duidelik in Katriena se geheue ingegraveer. “Ons het die gestruwel met die kar gehoor toe die bestuurder sukkel om dit onder beheer te kry.”
Terwyl haar man, wat blind is, aan die voetenent van hul bed gestaan het, het sy uitgeroep: “Daar val die kar!”
Wat daarna gevolg het, was ‘n oogwink van chaos en vernietiging. “Net toe die kar val, voel ek ‘n drukking by my rug en alles raak deurmekaar. One-two-three toe is alles oor,” beskryf sy die slag.
“‘Boet, my kinders!’ het ek geskree,” onthou sy. Die gesin het desperaat deur die puin na hul drie kinders gesoek. Hulle het Patrick Junior eerste gekry, wat verskrik maar veilig onder die planke uitgetrek is. Haar eenjarige dogtertjie is onder die motor gekry, maar was gelukkig nie ernstig beseer nie.
Dorian is laaste gevind – bewusteloos op die stoep van die naburige woning met bloeding en kopbeserings. Ten spyte van sy ma se desperaate pleite – “Dorian, praat vir mammie! Respond vir mammie!” – was daar geen reaksie nie. Paramedici het bevestig dat hy nie meer gelewe het nie.



“Ek kan dit nie glo nie. Hoe kon so iets binne ons eie huis gebeur? Ek kon nie eens my kind in sy eie huis beskerm nie,” sê sy tussen snikke.
“Dorian was so ‘n liefdevolle, vreedsame kind. Hy was saggeaard – altyd vriendelik en hulpvaardig. Die huis voel nou so leeg sonder sy lag en sy liefdevolle hart.”
Ten spyte van die hartverskeurende verlies kies Katriena dankbaarheid bo bitterheid.
Sy dink terug oor komplikasies tydens swangerskap toe Dorian se hart wou gaan staan en hoe hierdie nege maande uitgebrei het tot nege kosbare jare saam.
“Ek is dankbaar vir die jare wat ek gehad het om met hom te deel,” sê sy met oortuiging.
Omstanders gryp bestuurder
Die Macassar-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag ná die voorval waarop hulle omstreeks 21:20 reageer het. Getuies beweer die 37-jarige bestuurder van ‘n silwerkleurige Opel Astra het beheer verloor.
Twee insittendes, insluitend die bestuurder, is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem nadat gemeenskapslede hulle aangeval het.
Katriena het haar seuntjie Vrydagoggend (20 Februarie) amptelik gaan uitken en tref nog reëlings vir ‘n begrafnisdiens by Zandvliet Sekondêre Skool op Sondag 1 Maart.
Marvin Park Primêre Skool het Dinsdag 17 Februarie hierdie inskrywing op Facebook gedeel: “Ons skoolgemeenskap treur oor die heengaan van een van ons kosbare leerders. [Dorian] sal vir altyd in ons harte leef vir die blydskap wat hy aan almal rondom hom geskenk het. Ons dink aan sy familie en bid vir hulle in hierdie moeilike tyd.”




You must be logged in to post a comment.