Die beskuldigde Charles Apollis, wat van die grumoord op Nadia Lotz aangekla word, het Vrydag 30 Januarie weer in die Strand-streekhof verskyn.
Die saak is met dié hofverskyning weer uitgestel – dié keer tot Vrydag 20 Februarie.
Apollis staan tereg op die moord op Lotz, die ma van sy drie minderjarige kinders. Dié 32-jarige ma van Temperance Town was op 4 Maart 2023 die slagoffer van ‘n noodlottige mesaanval op ‘n rit van Strand na Gordonsbaai (“Pa vermoor glo ma van 3“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart 2023).
‘n Stryery het na bewering in die motor uitgebreek, waarna Apollis glo haar keel afgesny en haar uit die bewegende voertuig gestoot het. Die vriendin wat bestuur het, is met die mes gedreig om aan te hou ry.
Lotz is om 18:00 in Laer Gordonsbaai-weg dood. Apollis het hom later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee.
Volgens die polisie is die beskuldigde al voorheen van geweldsmisdade aangekla, maar nooit skuldig bevind nie. Hy was ten tyde van die moord op borgtog in ‘n poging-tot-moord-saak.
Apollis bly vir die duur van die hofsaak agter tralies nadat hy sy borgtogaansoek laat vaar het (“Beskuldigde weier borg,” 15 Maart 2023).
Die saak is in Julie 2025 vir verhoor hervat.
Volgens die burgerregte-organisasie Action Society is skokkende getuienis van verskeie getuies gehoor.
Die organisasie meld dat Lotz se beste vriendin getuig het dat sy die aanval probeer afweer het terwyl sy beheer oor die voertuig probeer behou het. Action Society sê die verdediging het die skuld op haar probeer afskuif deur te beweer sy het die moord uit romantiese belangstelling gepleeg – ‘n bewering wat sy ontken het.
Die organisasie vertel dat ‘n ooggetuie getuig het dat sy Lotz uit die bewegende motor sien val en probeer help het, maar die oorledene het op die toneel gesterf.
Volgens Action Society het ‘n voormalige adjudant-offisier in die polisie uitgebreide bloedvlekke in die voertuig, beserings aan die beskuldigde en forensiese bewyse voorgelê.
Die hof het die verdediging se Artikel 174-aansoek om die saak te laat vaar, verwerp.
Die burgerregteorganisasie meld voorts dat die beskuldigde op Maandag 19 Januarie getuig het met ‘n weergawe wat vroeëre bewyse weerspreek – hy beweer hy het bestuur en die beste vriendin het die moord gepleeg.
Die organisasie sê in kruisverhoor hy het gesukkel om bloedpatrone te verduidelik en kon nie verklaar waarom die polisie hom valslik in hegtenis sou neem nie.
Volgens Action Society het die verdediging Dinsdag 20 Januarie aangedui hulle is nie gereed om voort te gaan nie, wat tot nog ‘n uitstel gelei het.
“Hierdie saak het ‘n verwoestende voorbeeld geword van hoe prosedurele vertragings geregtigheid ondermyn,” sê Kaylynn Palm van Action Society. “Drie-en-twintig uitstelle is nie toeval nie; dit is ‘n mislukking. Nadia se familie word gedwing om die gewelddadigste oomblik van hul lewe oor en oor te beleef.”
Palm beklemtoon dat die uitstelle openbare vertroue in die strafregstelsel ondermyn. “Die bewyse is gelewer, getuies het getuig en die beskuldigde se weergawe is betwis. Daar is geen regverdiging vir voortgesette vertragings nie.”
In ‘n video by die hofgebou het Palm verduidelik: “Albei partye het vandag hul argumente voorgelê. Die landdros sal nou moet oorweeg wat sy gehoor het voordat sy uitspraak lewer.”
Action Society het ‘n beroep op ferm geregtelike saakbestuur gedoen. “Families verdien afsluiting en ‘n regstelsel wat die moord op ‘n jong vrou met die dringendheid behandel wat dit vereis.”
‘n Familielid van Lotz het haar frustrasie uitgespreek oor die uitgerekte moordsaak, wat al drie jaar voortsleep.
“Volgende maand is dit drie jaar, en drie jaar is te lank. ‘n Mens is moeg, man. Ek wil net hê hy moet straf kry; hy moet bly waar hy is – in die tronk,” sê die familielid.
Die familie voel die beskuldigde geniet meer regte as die slagoffers. “Hy kan maak en doen wat hy wil – hy kan chop and change soos hy wil. En elke dag kry hy nog ‘n kans om te lewe, wat ek voel nie reg is nie.”
Die familielid beklemtoon die blywende pyn: “Nadia is nie meer hier nie, en niks gaan haar ooit terugbring nie. Die feit dat hy daar in die hof staan, wys hy het geen berou nie.”




