Die liggaam van ’n man het Dinsdagmiddag op die hoofstrand in Kusweg uitgespoel.
Volgens owerhede is die man se identiteit steeds onbekend en ’n beroep is op die publiek gedoen om na vore te kom met inligting om hom te identifiseer.
Alan Meiklejohn, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai, het gesê reddingspanne is om 13:32 ontbied na aanleiding van berigte wat van Gordonsbaai Sekuriteit (GBSec) ontvang is van ’n liggaam wat in die water by Strand Pavilion dryf.
Die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is geaktiveer.
Die Stad se menseredders, NSRI Gordonsbaai-reddingswemmers, GBSec-reaksiebeamptes en GB Med Rescue-ambulansdienste se paramedici, die Stad se brandweer- en reddingsdienste, wetstoepassers, die provinsiale regering se mediese nooddienste en die polisie het op die vermeende verdrinking gereageer.
“Met hul aankoms het menseredders ’n volwasse man uit die water gebring en kardiopulmonêre resussitasie is met die steun van NSRI-personeel en paramedici toegepas. Nadat die pogings misluk het, is hy op die toneel dood verklaar.”
Meiklejohn het bygevoeg die omstandighede wat tot die voorval gelei het, is steeds onbekend en die man is teen Woensdagoggend nog nie geïdentifiseer nie. “Niemand wat moontlik met dié voorval verband hou, is toe nog as vermis aangemeld nie,” het hy gesê.
Die Strand-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.
V
Enigiemand met inligting kan die Strand-polisiekantoor by 021 854 9100 of kaptein Lionel Farmer by 082 444 0369 skakel.


