Die vermeende dronkbestuurder wat byna vier jaar gelede in hegtenis geneem is ná die botsing waarin die adjunkbalju Eugene Langeveldt dood is, het verlede maand met ’n ligte vonnis van die misdaad afgekom.
Die beskuldigde, George van Niekerk, wat tereggestaan het weens onder meer dronkbestuur en strafbare manslag, is Maandag 24 Oktober in die Strand-streekhof gevonnis. Die 57-jarige is ten spyte van ’n bloedalkoholvlak van meer as vier keer oor die wettige perk weens tegniese faktore op die dronkbestuur-aanklag onskuldig bevind. En, hoewel hy skuldig bevind is aan strafbare manslag, is hy vyf jaar tronkstraf, wat in die geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, opgelê.
Van Niekerk is verder ook gevonnis tot drie jaar korrektiewe toesig, wat behels dat hy vir die duur van die vonnis in huisarres sal wees, 26 uur gemeenskapsdiens per maand moet verrig, hom aan ’n behandelingsprogram en monitering moet onderwerp en nie die landdrosdistrik mag verlaat nie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die vonnisoplegging volg nadat Van Niekerk kort ná ’n noodlottige botsing, wat Saterdagmiddag 8 Desember 2018 op die R44 buite Gordonsbaai gebeur het, in hegtenis geneem is. Van Niekerk, wat na bewering onder die invloed agter die stuur was, het met sy Toyota Fortuner teen Langeveldt se Toyota Tazz gebots (“Jong pa sterf, baba beseer,” DistriksPos, 13 Desember 2018). Langeveldt, ’n 34-jarige Eersterivier-inwoner en die adjunkbalju van Bellville-Suid, het op die toneel aan sy beserings beswyk. ’n Baba, wat toe slegs nege maande oud was, is ook in die voorval beseer.
Langeveldt was saam met vriende in twee voertuie op pad na Sparksbaai naby Kogelbaai vir ’n daguitstappie ter viering van sy ouer dogter se verjaardag. ’n Voormalige Gordonsbaai-inwoner, Bevan Borcherds, het die koerant destyds meegedeel hy het saam met die verjaardagmeisie, twee van haar niggies (toe 11 en 13), Langeveldt se seun (toe vyf) en sy broer, wat aan Down-sindroom ly (toe 26) in sy Ford Ranger-bakkie voor Langeveldt gery. Borcherds se vrou was ’n passasier in Langeveldt se motor en sy skoonma het agter in sy voertuig met hul babadogtertjie op haar skoot gesit.
Van Niekerk het in sy voertuig in hul rigting “aangejaag gekom” en teen Langeveldt se motor gebots.
Die geliefde eggenoot en pa van twee het op die toneel aan sy beserings beswyk en moes deur nooddienspersoneel uit die wrak bevry word.
Borcherds het met die hulp van ’n motoris, wat op die toneel gestop het, sy dogtertjie met ernstige beserings na die hospitaal vervoer. Sy vrou en skoonma het met minder ernstige beserings van die botsing afgekom.
In die lig van die vonnisoplegging het Borcherds, Langeveldt se jare lange boesemvriend, sy teleurstelling oor die uitspraak uitgespreek.
“Ná vier jaar se op en af en die beskuldigde wat skynbaar geen berou oor sy dade getoon het nie, is dit ’n teleurstellende uitkoms van die uitgerekte hofsaak,” het die 37-jarige gesê.
“Die regstelsel het ons heeltemal gefaal.”
Borcherds het verder gesê sy dogtertjie, wat nou vier jaar oud is, het van haar beserings, waaronder skedelbreuk, bloeding op die brein en ’n fraktuur aan haar been, herstel, maar ly steeds aan trauma weens die ongeluk. “Sy val gedurig en is bang vir enige harde geluid,” het hy aangevoer.
Paul Baines, ’n ooggetuie en omstander wat die slagoffers op die toneel bygestaan het, meen die hofuitspraak stuur die boodskap uit dat dit “oukei is om onder die invloed van drank te bestuur, ander padgebruikers in gevaar te stel en skotvry daarvan af kan kom” selfs as ’n lewe geëis word. “Die beskuldigde kom weg met ’n opgeskorte vonnis en sy rybewys is nie eens ingeperk nie,” beklemtoon hy in uiterste ongeloof.
Baines herroep dat hy op daardie noodlottige dag saam met sy vrou en skoonma in sy sportnutsvoertuig van hul huis in Kenilworth na hul vakansie- huis in Pringlebaai onderweg was om sy skoonma se verjaarsdag te vier.
Voor hulle het Langeveldt se blou Tazz en die wit Ford Ranger, met vyf kinders agterop wat met opgewondenheid vir die insittendes in die Tazz gewaai het, gery.
Sowat ’n kilometer van die Steenbras-riviermond af het die Toyota Fortuner skielik in die teenoorgestelde rigting teen ’n hoë spoed aangejaag gekom.
Die Fortuner het net-net die bakkie gemis en die Tazz agter die Ford getref.
“Die ongelukstoneel was baie traumaties, veral om die absolute skok en afgryse op die gesigte van die klein kindertjies wat die botsing aanskou het, te sien.
“Niks sal Eugene Langeveldt terugbring nie, maar ek voel ’n duidelike boodskap moes deur middel van ’n meer gewigtige vonnis uitgegaan het aan ander – dat drink en bestuur, asook hoëspoed- roekelose en nalatige bestuur nie aanvaarbaar is nie en daar ernstige gevolge sal wees vir enigiemand wat die wet oortree.”
DistriksPos & Helderberg Gazette het onverpoos probeer om kommentaar van Langeveldt se naasbestaandes te verkry. Hulle oorweeg dit glo om teen die hofuitspraak te appelleer, maar verskeie oproepe na hulle het onbeantwoord gebly.



