Ongeag die onlangse fokus op vroue en kinders en geslagsgebaseerde geweld in die veldtog vir 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, het diewe die selfsugtige en dwase besluit geneem om ’n skool se voedingskema van kos te ontneem wat van die armste leerders moes voed.
Boewe het oor die naweek (Saterdag 3 en Sondag 4 Junie) by Firgrove Primêre Skool ingebreek en R8 000 se voedsel-items van die skool se voedingskema gesteel.
AO Desire Adendolf, ’n woordvoerder vir die Macassar-polisie, het die voorval bevestig en gesê ’n opsigter by die skool het die afgelope Maandagoggend (5 Junie) onraad bemerk toe hy agterkom drie vensters van die skool se rekenaarklaskamer is gebreek, maar dat niks gesteel is nie.
“Dit was toe die opsigter by die skool se voedingskema kom en sien van die diefwering is uitgebreek, dat hy gesien het goedere is gesteel,” sê Adendolf.
Hoenderlewertjies, agt bokse melk, 10 kg rys, ’n ketel, soja- en bone-produkte asook stampmielies is gesteel.
Die skool het kommentaar van die hand gewys, maar Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig die departement is bewus van die diefstal en betreur die voorval.
“Die diewe het voedsel-items gesteel wat die armste leerders voed. Van die voedsel-items het ’n NSNP- kenteken op.
“As enigiemand enige inligting het, moet hulle asseblief dadelik die polisie skakel,” het Hammond bygevoeg.
Adendolf het bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nie.
“ ’n Inbraak-en-diefstal-klagte is aangemeld. In dié stadium weet ons net die verdagtes het al die voedsel-items in ’n ‘wheelie-bin’ gelaai en is só daarmee weg.”
Wyk 109-raadslid Peter Helfrich het na die gemeenskap uitgereik en hulle gevra indien hulle enige inligting oor die inbraak en diefstal het, om daarmee na vore te kom. “Kom ons sit die misdadigers in die tronk waar hulle hoort,” sluit hy af.




