‘Wings of Hope’ se moederhen neem honger kleintjies onder die vlerk

Michelle Prinsloo berei voor om die kinders wat sy voed, by haar huis te verwelkom. Foto: Barend J Williams


Strandse samaritaan Michelle Prinsloo is op ’n missie om 200 kinders te voed, omdat sy glo dat die versorging van hul honger mae die gedagtes van die behoeftigste in die gemeenskap sal inspireer.

Die enigste ding wat haar keer om ’n paar honderd glimlaggende gesigte te sien, is finansiering. 

Die 61-jarige inwoner van Broadlands Village het ’n voedingskema begin wat informeel bekend staan as Wings of Hope, en voed weekliks ongeveer 65 kinders uit haar eie sak. Die voedingskema, wat nog nie geregistreer is nie, bevoordeel die behoeftige kleintjies wat die voeding nodig het om in die skool te slaag. “As ’n kind nie gevoed word nie, wil hulle nie skool toe gaan nie,” sê Prinsloo.

Haar vermoë om met die kinders se swaarkry te simpatiseer, is wat haar deernisvolle ondersteuning dryf. Ná die dood van haar eerste man het Prinsloo na alkohol vir troos gesoek, wat daartoe gelei het dat haar kinders van haar weggeneem is. Toe sy haar kinders sien ly as gevolg van haar dade, het sy dieper in wanhoop verval. Nadat sy weer op koers gekom het, het sy haar eie kinders in die oë van die kleintjies wat in die strate rondloop, gesien. Dit het ’n 33 jaar lange reis begin van om haar hart en haar huis oop te maak vir diegene in nood.

“Toe ek my lyding oorkom het, wou ek ’n verskil maak,” sê sy.

Prinsloo hou haar deur oop vir kinders wat honger is, en hulle kom deur die week iets te ete kry, maar op Donderdae en Vrydae berei sy ‘n groot pot kos voor en verander haar huis in ’n inloer-sentrum. Dit lei daartoe dat haar tweeslaapkamerhuis oorvol is.

Sy het groot drome vir Wings of Hope. “As ek my oë toemaak, droom ek van ’n groter ruimte sodat ek meer kinders kan voed. Dit beteken ek kan ’n verskil maak in meer mense se lewens.”

  • Om Prinsloo te ondersteun en haar droom te help verwesenlik, bel haar by 064 577 0402.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article