Kinders met gestremdhede het die afgelope Woensdag (30 September) saam gespeel en die son geniet by Macassar se eerste inklusiwiteitsdag terwyl hul ouers mediese sorg ontvang het.

Die organisasie sonder winsoogmerk AweWork, wat deur studente gelei word, het met die provinsiale departement van gesondheid en welstand hande gevat om “One Beat, One Rhythm” op die Macassar-sportterrein aan te bied.
Die program het ontstaan uit AweWork se stigter, Carmen Snyders, se eie ervaring met haar kind, Carter. Sy het die behoefte van kinders sowel as ouers vir so ‘n geleentheid raakgesien.

“Dit gee die kinders, wat nie skool bywoon nie, ‘n kans om met mekaar te speel en dit gee ook ouers die kans om asem te skep,” sê sy.
Die kinders is met speletjies en ‘n demonstrasie deur die plaaslike brandweerspan vermaak, terwyl verskeie departemente en organisasies die ouers met bloeddruk- en suikertoetse gehelp het.

Die Wes-Kaapse departemente van maatskaplike ontwikkeling en mobiliteit, die Stad Kaapstad se departemente van omgewingsgesondheid en brand-en-reddingsdienste, die Macassar-biblioteek en plaaslike organisasies sonder winsoogmerk, soos Cotlands, Kheth’Impilo Aids Free Living en D Health Projects, het die dag ondersteun.


Vir die departement van gesondheid is dit ‘n geleentheid om gemeenskapsorg te verleng.
Meer as net fisieke gesondheid
“Dit gee vir ons ‘n kans om nie net fisieke gesondheid nie, maar ook geestesgesondheid in Macassar te bevorder,” sê Yuché Jacobs, ‘n geestesgesondheidspraktisyn by die departement.
Terwyl die kinders lekker saam gespeel en dalk nuwe vriendskappe gevorm het, het die dag ‘n groter doel gehad. Die organiseerders het ‘n databank van die kinders opgestel.
Snyders verduidelik dat die departement van maatskaplike ontwikkeling die databank kan gebruik om kinders na die departement van onderwys vir skoolplasings te verwys, terwyl Jacobs byvoeg dit sal ook die plaaslike gemeenskapskliniek help om beter sorg te verskaf.
Berading is ook vir die ouers aangebied.





You must be logged in to post a comment.