Die Hervormde kerk Strand doen ‘n beroep op Helderbergers om deur ondersteuning van hul inisiatief Kaalvoet-Sondag vir barmhartigheid ‘n dag in die “skoene” van kwesbares te loop en om te gee vir diegene wat swaarkry.
Volgens ds. Piet van Zyl, ‘n afgetrede predikant wat deeltyds by die gemeente betrokke is, word die inisiatief ‘n tweede agtereenvolgende jaar aangepak. Hy sê dit speel ‘n groot rol om ‘n gevoel van gemeensaamheid te skep – juis omdat die kerk as ‘n omgeegemeente gevestig is waar kerklidmate met geloof, hoop en liefde die drie-enige God se boodskap passievol verkondig en so ook hoop in die gemeente en gemeenskap bring.
Vanjaar se inisiatief word vir Sondag 8 Junie beplan en weens die groot nood buite die grense van die gemeente
bekendgemaak. Ondersteuners word gevra om ten bate van die gemeente se diakonale pleeghuise en die liefdadigheidsorganisasie Heartlands Baby Sanctuary kaalvoet te loop om die harde werklikheid van mense wat nie het nie, te beleef.
“Die Amerikaanse skrywer Edward Hale het gesê: ‘I am only one, but still I am one. I cannot do everything, but still I can do something; and because I cannot do everything, I will not refuse to do something that I can do.’ Heartlands Baby Sanctuary sowel as ons kerk se diakonale pleegsorghuise kan doen met elke sent, elke babadoek en elke pak koekies. ‘n Mens se hart breek as jy op Heartlands Baby Sanctuary se wenslys op hul webwerf lees dat hulle marshmallows en Mariebeskuitjies vra wanneer die kinders verjaar.”
Ds. Piet van Zyl
Gemeentelede en belangstellendes word gevra om na die begunstigde se wenslys te kyk en gepaste skenkings te gee. Die produkte sal dan die volgende dag deur diakens van die gemeente na Heartlands geneem word.
Van Zyl onthou dat hy om en by in 2017, terwyl hy nog predikant in Ermelo was, gelees het van die Potato Foundation wat ‘n Kaalvoet-dag gehou het. Dit was egter in die week en vir sake-onder- nemings. Hierdie inisiatief het hom die idee gegee vir ‘n Kaalvoet-Sondag gefokus op barmhartigheid, wat ‘n reusesukses in Ermelo was.
Ná sy aftrede het hy na die Helderberg verhuis. Hy het twee jaar gelede by die Strand-gemeente deeltyds betrokke geraak waar hy die inisiatief opnuut voortgesit het. “Ek het verlede jaar voorgestel dat ons dit in Strand hou – spesifiek in die winter – sodat deelnemers aan hul lyf kan ervaar wat dit is om nie skoene of klere of ‘n kombers te hê nie. En weer eens was dit ‘n reusesukses,” vertel hy.
“Hoewel ek sê ouer mense en mense wat siekerig is, hoef nie kaalvoet te kom nie, het baie mense van 70 en ouer wel kaalvoet opgedaag.”
Volgens Van Zyl kies hulle elke jaar ‘n plaaslike organisasie aan wie hulle die kos en ander goedere skenk, terwyl die geldskenkings aan die kerk se diakonale program gegee word. Heartlands, ‘n tydelike residensiële versorgingsfasiliteit van veiligheid in Somerset-Wes vir 25 kinders op enige gegewe tydstip, is vanjaar ná ‘n voorstel uit die gemeente gekies.
Van Zyl verduidelik voorts dat die pleegsorghuise ontstaan het nadat hul kerk ‘n groot kinderhuis in Middelburg, Mpumalanga, gehad het. ‘n Besluit is ‘n paar jaar gelede geneem om dit te verkoop en eerder enkelhuise in verskillende dorpe te koop, waar huisouers en ses tot agt kinders geplaas word om meer huislike omstandighede te skep.
Kaalvoet-Sondag is die eerste Sondag wat die gemeente se erediens regstreeks uitgesaai gaan word. Kontak Van Zyl by 082 212 7436.





