Keeghan Noble, ‘n jong pa van drie, het Sondag (8 Junie) die slagoffer van ‘n messteekvoorval in Macassar geword.

‘n Ma van twee is in rou en smart gedompel nadat haar eersgeborene en enigste seun die afgelope naweek in ‘n messteekvoorval in Macassar om die lewe gebring is.

Bianca Jagers (47) vertel dat haar selfoon Sondag in die vroeë oggendure gelui het en sy het onmiddellik geweet iets is verkeerd.

Dié Macassar-boorling, wat die afgelope 13 jaar in Porterville as korrektiewebeampte werk en daar woon, onthou dat haar foon van voor 04:00 aanhoudend gelui het. Uit vrees vir die slegte nuus kon sy net nie die moed bymekaarskraap om een van die talle oproepe te beantwoord nie, want sy het geweet iets verskrikliks het met haar kind gebeur.

Sy het selfs haar selfoon in ‘n ander vertrek gaan neersit, maar dit was eers net voor 07:00 toe sy uiteindelik die moed bymekaar geskraap het om haar foon te beantwoord.

“Keeghan is dood; hy is doodgesteek,” het die stem aan die ander kant van die foon aan ‘n emosioneel oorweldigde Jagers gesê.

Haar seun, Keeghan Noble, het daardie noodlottige Sondagoggend die slagoffer van ‘n mesmoord geword. Dié hartverskeurende verlies volg nadat die jong pa van drie klein kinders verlede Maandag (2 Junie) sy 28ste verjaarsdag gevier het. Jagers het ook in Desember verlede jaar haar 74-jarige pa weens siekte aan die dood afgestaan.

“Ek het onmiddellik leeg en dood gevoel van binne,” vertel Jagers voorts. “Ek het om 08:00 van Porterville na Macassar vertrek, en dit het gevoel asof ons ry en ry en ry, maar net nie by ons bestemming kon uitkom nie.”

Jagers het verder erken dat sy sukkel om die werklikheid van die mesmoord, wat haar geliefde seun geëis het, te verwerk.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. Ons glo dis ‘n geval van op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, asook verkeerde vriende,” meen Jagers.

Luidens ‘n polisieverslag het die voorval, wat vermoedelik uit ‘n rusie gespruit het, omstreeks 02:00 in Soekmekaarstraat plaasgevind. Noble het na bewering saam met twee vriende na die winkel gegaan toe ‘n konfrontasie tussen ander mense verder af in die straat ontstaan het.

Die drie vriende het glo probeer vlug, maar die verdagte het Noble ingehaal en hom in die bors en linkersy gesteek. Daarna het Noble se vriende hom van die toneel na ‘n woning gedra, waar hy later aan sy wonde beswyk het.

Die Macassar-polisie het ‘n moordsaak geopen en die ondersoek duur voort. Die verdagte, ‘n 29-jarige man, is in verband met die voorval in hegtenis geneem en die mes is afgeneem. Hy het Maandag

(9 Junie) in die Somerset-Wes-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Die moordsaak is tot Dinsdag (17 Junie) uitgestel.

Volgens Jagers sal sy haar seun ewig onthou vir sy vriendelikheid, vermaak en algemene netheid. Sy vind troos in sy stem wat vasgevang is in stemnotas van hul geselsies verlede Vrydag.

Die bedroefde ma vertel met trots dat Keeghan as ywerige werknemer saam met sy pa in die boubedryf gewerk het. Hoewel hy uitslaapwerk gedoen het, het hy saam met sy 73-jarige ouma gewoon, wat ook oor sy verlies treur.

Buiten sy ma word Noble ook deur sy pa, Llewellyn Dawids, sy suster, Beantey (21) en sy kinders – sy sewejarige twee-

lingseuns en ‘n babadogtertjie wat byna ‘n maand oud is – oorleef.

Die familie is nog besig om begrafnisreëlings te tref.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article