‘n Strandse bejaarde en haar gesin is in die middel van die nag ná ‘n onverklaarbare brand dakloos gelaat.
“Ek kan nie sê wat gebeur het nie, want toe ek wakker word, het dit al gebrand,” vertel die 63-jarige Paulina Pietersen.
Volgens Mark Bosch, ‘n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens, het hulle verlede Donderdag (21 Mei) om 01:08 ‘n noodoproep ontvang dat ‘n woning in Petunialaan in Broadlandspark aan die brand was.
“Ons het onmiddellik gereageer met twee brandweerwaens, een watertenk en een reddingsvoertuig van die Strand- en Sir Lowry’s Pass-brandweerstasies,” sê Bosch.
Hy voeg by dat ses mense dakloos gelaat is, maar dat geen beserings of verdere skade aangemeld is nie.
“Die oorsaak van die brand is nie bevestig nie,” sê Bosch.
Pietersen verduidelik intussen wat sy daardie nag beleef het. Sy het omstreeks 01:05 wakker geword, toe die vlamme reeds haar agterkamer betree het. Die eerste ding wat sy gedoen het, was om haar kleinkind wakker te maak.
Sy, haar man en haar dogter het probeer om die vlamme te blus, maar hulle was onsuksesvol. Die brand het deur die huis beweeg en die twee ander slaapkamers, asook die sitkamer en die kombuis, verswelg.
“Die vloeidruk van die water in ons huis was te swak. As dit sterker was, kon ons die brand geblus het,” sê die ouma- grootjie.

“My senuwees was aan ‘n flenter – ek kon nie eens die tyd dophou nie,” sê sy.
Danksy die brandweer is die vlamme geblus, maar toe die as gaan lê het, is daar niks agtergelaat nie.
Terwyl Pietersen voor haar huis sit, omring deur verkoolde oorblyfsels, ‘n koppie koffie in die hand en ‘n agterkleinkind en haar kleinkinders om haar, sê sy die voorval het haar oë oopgemaak.
“Dit kan enigeen oorkom, maar ek vertrou die Here dat daar ‘n uitweg is,” sê sy.

Die gesin het dringend kos en klere nodig.
Kontak Natasha Prins by 064 178 9794 vir nog inligting of om broodnodige hulp aan die gesin te bied.




You must be logged in to post a comment.