Die jaarlikse “Velddraf met woorde” word op Sondag 11 Oktober by die Dornier-landgoed as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.

Gryp jou tekkies; hol met ‘n woord

Die jaarlikse “Velddraf met woorde” word op Sondag 11 Oktober by die Dornier-landgoed as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.

Trek jou tekkies aan en kies die hasepad in Afrikaans tydens vanjaar se “Velddraf met woorde”.

Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier op Sondag 11 Oktober die woord, die fees en die gees met hierdie gewilde pretdraf. Jy is by die “Velddraf met woorde” meer as net ‘n nommer – deelnemers draf of stap met ‘n unieke Afrikaanse tongtrippelterm uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) as registrasienommer.

Almal is welkom – van “doekvoet” tot “donderweer” en “blitsig” tot “baanbreker”. Of dalk is jy “holderstebolder”, “spoedvraat”, “agteros” of “slampamper”. Dit is ‘n ­viering van die bekkigheid van Afrikaans, waar taal in ‘n vrolike veldwedloop voete kry.

Jy kan stap, draf of strompel. Waar, hoe en hoe ver? Die vraag moet eerder wees, tot hoe ver is jy in staat? Jy kan laat spaander of bedaar… Deelnemers kan kies om die Vastrap of die Japtrap aan te durf. Die Vastrap is 10 km lank en die Japtrap is 5,9 km.

“Velddraf met woorde” vind plaas op die pragtige Dornier-wynlandgoed, net anderkant Jamestown buite Stellenbosch, aan die voet van die Helderberge. Verwag natuurskone uitsigte, baan jou weg deur die plaas se wingerde en geniet die vars lug.

“Velddraf met woorde” is vir jou genot en vir die taal, dus sal geen amptelike tye geneem word nie. Die topdrie-­­draw­wers in die 5 km- en 10 km-wedlope (mans en vroue) sal egter podiumpryse wen. Al maak jy teen ‘n slakkepas klaar, kan jy ook dalk iets tydens die geluktrekkings wen en elke deelnemer ontvang ‘n spekboompie as medalje.

Laat die woorde soos klippies in jou mond rondrol en dink solank wat vir jou die mooiste en lekkerste woord in Afrikaans is.

Die WAT gaan by die geleentheid wees as jy belangstel om jou gunstelingwoord te borg. Jy kan selfs die 100-meter-

WAT-eeuloop teen enige pas oorweeg om 100 jaar van die WAT te vier.

Die 10-km-Vastrap (R200) begin om 08:00, die 5-km-Japtrap (R150) om 08:15 en die 100-m-WAT-eeuloop (R50) om 09:15.

Dag-inskrywings kos R50 ekstra, maar slegs as nog kaartjies beskikbaar is en dit nie aanlyn uitverkoop is nie.

“Velddraf met woorde” is beperk tot 500 inskrywings. Doen dus eerder verspring om betyds jou plek by Quicket te bespreek.

Ontvlug aan die rompslomp van jou bestaan. Moenie ‘n sofapokkel of inkoejawel wees nie.

Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans saam met die Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende “Velddraf met woorde”.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article