Christine Koopman, oftewel Antie Toy, het die koerant by haar Lourensiapark-tuiste die afgelope ses jaar verwelkom vir haar verjaardagonderhoude en sy is steeds so sprankelend en vol lewe soos destyds met ons eerste ontmoeting.
Sy is ‘n toonbeeld van vriendelikheid, vol geselsies en praat steeds uit dankbaarheid oor die Godgegewe jare wat sy gespaar is.
Op die opmerking: “Ja, antie Toy, hier is ons weer vir nog ‘n lewensjaar wat u gegun is,” antwoord sy: “Ai, my kind, ek is bly, maar ek is veral dankbaar vir die Here wat my deurgedra het. Dit is die belangrikste ding. En ek is nog gesond. Ek kan net vir die Here dankie sê. ‘n Mens wil mos altyd by jou familie en jou kinders wees.”
Antie Toy het Dinsdag (11 November) haar 100ste verjaardag gevier en koester steeds kosbare herinneringe van haar “maer, dog lekker” grootwordjare op die Bredell-plaas en haar liefdevolle huwelik met Joseph, saam met wie sy 11 kinders gehad het.

Sy onthou die “goeie” dae van harde werk, benewens die swaarkry, en spog met haar kennis wat sy as huishulp in en rondom die huis opgedoen het.
Haar vier oorlewende kinders en string kleinkinders, agterkleinkinders en agteragterkleinkinders hou haar aan die gang en sy is trots op haar hegte familie.
In haar rustige goue jare geniet Antie Toy veral haar stiltetyd met Die Woord, haar liefdevolle familie en die kosbare vriendskappe waarmee sy geseën is.
Sy luister graag na DisaFM vir geestelike versterking en kyk snags ‘n bietjie televisie – veral die sepiedrama’s – om te ontspan en haar dankbare hart te voed.
Oor haar daaglikse roetine as honderdjarige en haar gemeenskap se oudste inwoner, sê sy: “Elke dag is ‘n goeie dag. En wat maak dit so besonders? Dit is die Here wat vir jou sorg en die kinders wat vir jou bid.”
Wat is haar lewensresep, wonder ons?
“Daar is so baie seëninge wat jy elke dag ontvang. Daar is elke dag iets wat die Here vir jou maak.”
En wat het die Here onlangs vir Antie Toy uitgelig? “Die Here leer ‘n mens om dankbaar te wees,” meen sy. “Jy kan sien, jy kan nog praat, jy kan nog rondbeweeg waar jy wil. Dis die mooiste ding – saam met jou familie.”
Sy het die mylpaal Dinsdag met ‘n dankseggingsdiens op haar verjaardag by die VGK-gemeente Somerset-Wes gevier.




