Behulpsaam.
Só sal ‘n leerder, vir wie ‘n blink toekoms gewink het, vir ewig onthou word nadat sy tragies van die lewe ontneem is.
Livenia Appollis, ‘n graad-2-leerder aan Temperance Town Primêre Skool, het verlede Dinsdagaand (3 Februarie) in ‘n noodlottige padongeluk buite haar tuisgemeenskap gesterf.
Dié tragiese voorval het op Sir Lowry’s Pass-pad afgespeel terwyl die agtjarige van ‘n nabygeleë winkelsentrum op ‘n fiets saam met haar moeder, wat te voet was, op pad huis toe was.

Volgens kaptein FC van Wyk, ‘n woordvoerder vir die provinsiale polisie, het plaaslike polisielede om 20:30 op die voorval reageer. Die Gordonsbaai-polisie het ‘n saak van strafbare manslag en dronkbestuur geopen ná die voorval waarin die meisietjie noodlottig beseer is.
“Die omstandighede rakende die voorval word nog ondersoek. Die 24-jarige motorbestuurder is in hegtenis geneem en het Donderdag 5 Februarie op die betrokke aanklagte in die Strand-landdroshof verskyn. Die polisieondersoek duur voort,” sê Van Wyk.
Die voorval het ten aanskoue van Livenia se moeder, Madelein, afgespeel. Die ma-en-dogter-paartjie het voor 21:00 van Checkers af teruggekeer. Livenia was op haar fiets terwyl haar ma en ‘n ander vrou te voet was.
Volgens die 43-jarige ma het ‘n motor van die N2-kant af gekom en haar dogtertjie getref toe sy by die verkeerslig probeer oorsteek het. Die ouer beskryf die traumatiese oomblik toe sy gehardloop en geskree het: “My kind! My kind!”
Toe sy by Livenia probeer kom het, het sy ‘n jong man gesien wat net gestaan en sy oë toegemaak het – vermoedelik die bestuurder van die voertuig.
Die moeder beskryf haarself as “baie seergemaak” deur die verlies van haar jongste kind.
Livenia was die jongste van vier kinders in die gesin. Haar sibbe is onderskeidelik 16, 14 en 10 jaar oud. Die familie sukkel om die verlies te hanteer – veral haar 10-jarige broer, Luke, wat nie meer in die huis wil wees of slaap nie.
Dié twee sibbe het altyd saam geslaap en was baie na aan mekaar, wat die verlies vir hom veral traumaties maak.
Madelein beskryf Livenia as ‘n baie liefdevolle kind, maar ook kinderlik tartend en koppig.
“Sy het altyd reggekry wat sy wou hê – selfs wanneer ek ‘nee’ gesê het. Livenia het gedroom om ‘n brandweervrou te word en om eendag vir ons ‘n groot huis te koop,” deel die emosiebelaaide moeder.
Sy vertel voorts dat ‘n pynlike herinnering vir haar is dat Livenia verlede Maandag nog gevra het vir ‘n pop, wat sy die dag ná die ongeluk as ‘n soort nagedagtenis aan haar dogter gekoop het.
By die laerskool verwelkom ‘n gedenktafel besoekers in die voortportaal – ‘n brandende kers ter nagedagtenis aan die oorlede leerder, haar geraamde foto en ‘n vaas vol pers blomme.
In juffrou Melissa Fourie se graad-2-klaskamer het Livenia se leë sitplek as ‘n pynlike herinnering gedien.
“Die verlies is groot en moeilik om te verwerk,” sê Fourie in trane.
Sy beskryf Livenia as haar “regterhand” – ‘n behulpsame kind wat leierskapseien-
skappe getoon het. “Ek kon net sê ‘Livenia, gaan doen gou dit,’ en sy was daar.”
Die onderwyseres onthou Livenia as ‘n rustige kind wat uitgestaan het vir haar behulpsaamheid. “Sy was heel rustig in die klas. Sy kon soms bekkig wees, maar sy het haar werk gedoen en mooi met haar maatjies gespeel.”
Hoewel Livenia hierdie jaar graad 2 moes herhaal, het sy leierskapseienskappe getoon omdat sy effens ouer as haar klasmaats was.
Fourie, wat self in die Temperance Town-gemeenskap woon, was self op die ongelukstoneel. “Dit was nogal ‘n hartseer
toneel, veral met haar ouers wat daar gesit het. Ons het gewag totdat die forensiese span haar liggaampie kom haal het – so by 23:00 Dinsdagaand,” beskryf sy die traumatiese ervaring.
“Baie gemeenskapslede het op die toneel byeengekom om hul ondersteuning te bied.”
Die skool het ‘n geskiedenis van soortgelyke voorvalle. Livenia se klasmaat Rodwin Louis is in September 2023 in ‘n ongeluk op dieselfde pad kritiek beseer toe hy as sesjarige die pad tydens spitsoggendverkeer probeer oorsteek het (“Gordonsbaai-ongeluk: Padveiligheid bekyk, leerder in koma,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 13 September 2023).
Ná hierdie voorval het die skool veiligheidsmaatreëls ingestel.
“Ons het tussenbeide getree deur te vra dat ouers hul kinders moet vergesel. Dit het begin werk,” verduidelik die skoolhoof, Zaibuniesa Windvogel.
Die skool het ook saam met die plaaslike raadslid Sean Stacey gewerk om die zebra-kruising sigbaarder te maak deur dit te verf en ouer leerders is gevra om kleiner leerders te ondersteun terwyl hulle die pad oorsteek.
Met die koerant se besoek aan die skool die afgelope Vrydag (6 Februarie) het Rodwin bevestig dat hy sy vriendin baie mis. “Ja,” antwoord hy op die vraag of hy Livenia mis en bevestig dat hulle “altyd saam gespeel” en “saam skoolwerk gedoen” het. Die seun raak emosioneel verward wanneer hy oor sy vriendin praat.
Volgens Windvogel is die skoolgemeenskap diep getref deur Livenia se tragiese afsterwe vroeg in die skooljaar.
“Natuurlik is ons baie, baie hartseer. Ons het een van ons maatjies verloor; ons skoolgemeenskap voel dit erg,” sê die skoolhoof, wat beskryf hoe die jong meisie ‘n blink toekoms voor haar gehad het.
“Sy het altyd juffrou Fourie se sleutel gebring en ingekom en gegroet… Dis hoe ek vir haar onthou – as iemand wat baie behulpsaam was en altyd gereed was om haar maatjies te ondersteun. Sy het ook gereeld by die motors gewag om opvoeders met hulle sakke en allerhande take by te staan,” voeg sy by.
Windvogel voer verder aan dat kinders in die gemeenskap gereeld die gevaarlike Sir Lowry’s Pass-pad moet oorsteek om by winkels en die skool uit te kom, wat die dringende behoefte aan verbeterde padveilligheidsmaatreëls beklemtoon.





You must be logged in to post a comment.