Christine “Antie Toy” Koopman op haar 100ste verjaardag. Foto: Jamey Gordon

Lourensiapark se oudste inwoner, Christine Koopman – bekend as “Antie Toy” – is verlede Dinsdag (20 Januarie) oorlede, slegs ‘n paar maande ná haar 100ste verjaardag.

Die geliefde oumagrootjie het vir ses jaar lank – sedert haar 94ste verjaardag – die koerantspan hartlik by haar tuiste verwelkom en die voorreg gebied om deel van haar besondere verjaardagvieringe te wees.

Met die mees onlangse besoek op haar verjaardag verlede jaar (11 November 2025) was sy steeds so sprankelend en vol lewe soos met die eerste ontmoeting (“Grootoumagrootjie bly dankbaar vir goue jare”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 12 November 2025). Sy was deurgaans ‘n toonbeeld van geloof en vriendelikheid – vol geselsies en vervul met diepe dankbaarheid vir die Godgegewe jare wat sy ontvang het. Benewens haar getroue woorde dat sy bly is die Here het haar getrou gedra, het sy Hom aanbid vir haar uitstekende gesondheid en krag om altyd by haar familie en geliefdes te staan.

Antie Toy het egter haar laaste asem verlede week uitgeblaas nadat sy saggies haar oggendgebed saam met haar dogter, Betty Koopman, voltooi het. Betty het tydens ‘n meer sombere besoek aan hul tuiste op Donderdag 22 Januarie vertel haar ma het behandeling vir ‘n longinfeksie ontvang, maar was nie regtig siek nie.

“Ons het gesels en saam gebid en gesing, soos ons altyd doen. Ons het omstreeks 08:30 nog die Onse Vader saam gebid en kort daarna het sy beswyk. Ons is seer weens die verlies, maar koester goeie herinneringe van haar en ons is tevrede,” het Koopman gesê.

‘HAAR WYSHEID WAS KOSBAAR’

Benewens die verlies van haar ma se teenwoordigheid, meen Koopman hulle sal dit veral mis om hul geliefde matriarg met enige situasie en besluit te raadpleeg en lief en leed met haar te deel. “Haar wysheid was kosbaar en sy sou ons altyd teregwys.”

Op 100 jaar oud was Antie Toy nie net haar gemeenskap se oudste inwoner nie, maar ‘n lewende voorbeeld van onwrikbare geloof en familielewe. Sy het grootgeword op die Bredell-plaas tydens “maer dog lekker” jare, en het later as huishulp gewerk en ‘n liefdevolle huwelik met Joseph gehad wat 11 kinders voortgebring het.

Met vier oorlewende kinders en ‘n string nageslagte wat strek tot agteragterkleinkinders, was familie die middelpunt van haar bestaan. Haar lewensfilosofie was eenvoudig, maar diepgaand: “Elke dag is ‘n goeie dag” danksy die Here se sorg en seëninge. Haar goue jare het sy geniet met stiltetyd met Die Woord, DisaFM se geestelike programme, sepiedrama’s, en die kosbare geselskap van familie en vriende. Haar grootste erfenis: ‘n hart vol dankbaarheid en die wysheid dat elke dag ‘n seëning van die Here is.

Volgens mede-inwoner Doreen Finger bring sy hulde aan ‘n dierbare vriendin en ‘n buitengewone vrou wat ontelbare lewens geraak het. “Veertien jaar lank was ons vriende, en in al daardie jare het ek nooit ‘n harde woord uit haar mond gehoor nie. Sy was terselfdertyd ‘n vriendin, moederfiguur en bron van ontelbare seëninge wat elke woord bemoedigend en opbouend gemaak het. Haar verbinding met my familie was diep – sy het selfs my vader geken en gerespekteer voordat ons mekaar ontmoet het, wat ons vriendskap nog meer betekenisvol gemaak het.

‘VEEL MEEER AS NET ‘N VRIENDIN’

“Antie Toy was egter veel meer as net ‘n persoonlike vriendin – sy was ‘n gebedskryger vir ons hele gemeenskap. Ek glo vas dat ons omgewing se merkwaardige vrede gedurende haar leeftyd die gevolg van haar getroue voorbidding vir ons buurt en sy inwoners was. Die gemeenskap het meer as net ‘n honderdjarige verloor – ons het ons geestelike dekking verloor. Sy was werklik legendaries en het ons gemeenskap in haar gebede gedra, waardeur ons almal beskerm en geseën is. Haar nalatenskap gaan oor ‘n volle eeu van liefde, gebed en diens aan ander. Rus in vrede, dierbare vriendin – jou honderd jaar tussen ons was ‘n seën bo alle maatstawwe,” het Finger meegedeel.

Adjudant-offisier Suzan Jantjies, ‘n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het in lig van die verlies gedeel: “Antie Toy was vir 13 jaar deel van die Somerset-Wes- seniorklub en ‘n getroue lid. Dit was so ‘n seën om Antie Toy as deel van ons groep te gehad het. Haar rustige geaardheid en die feit dat sy altyd reg was vir ‘n grappie, het gemaak dat sy ‘n groot gunsteling in ons groep was. Ek het persoonlik baie wysheid by Antie Toy geleer en lesse ontvang wat ek vir jare sal koester. Haar heengaan is ‘n groot verlies vir ons en haar plek in ons harte sal altyd oop wees. Ons koester die pragtige herinneringe wat ons al die jare saam gemaak het. Rus sag, Antie Toy, u bly vir altyd in ons harte.”

 ‘n Begrafnisdiens word vir Saterdag (31 Januarie) om 09:00 by die VGK-gemeente Somerset-Wes beplan. Die besigtiging sal by die kerk plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article