Omstanders staan in ongeloof en skok op die toneel in Andries Pretoriusstraat, Somerset-Wes, waar Chantel Fredericks in Mei weens natuurlike oorsake beswyk het. Die oorledene is sowat twee weke gelede ter ruste gelê. Photo: Jamey Gordon

“Sy was lieflik; altyd bereid om ‘n helpende hand te verleen.”

Só onthou Chrisna Paulse (51) van Macassar haar geliefde susters- kind, Shantell Fredericks, die voetganger wat onlangs in Somerset-Wes inmekaargesak en beswyk het.

DistriksPos & Helderberg Gazette het voorheen berig dat die Somerset-Wes-polisie ‘n geregtelike doodsondersoek ingestel het na die voorval op Woensdag 7 Mei naby ‘n laerskool se hoofingang in Andries Pretoriusstraat (“Probe into woman’s death“, 14 May). Die vroulike slagoffer se identiteit en omstandighede rakende haar dood kon toe nog nie amptelik bevestig word nie.

Die koerant het intussen met die slagoffer se naasbestaandes kontak gemaak, wat aanvanklik hul ontevredenheid uitgespreek het oor sosialemediaplasings met foto’s van die oorledene waar sy beswyk het en valse inligting oor die voorval gedeel het.

“Sy is aan natuurlike oorsake oorlede,”

het Paulse aangevoer voordat sy gerugte, insluitend dié dat sy aangeval of omgery is, weerlê het.

Fredericks was volgens die familielid op dié noodlottige dag onderweg na die plaaslike kliniek waar sy behandeling vir ‘n siekte wat die longe aantas, ontvang het.

Nadat Paulse hul ongelukkigheid hieroor namens die familie gedeel het, het sy hul dankbaarheid vir iedereen se diep gewaardeerde hulp in die moeilike tyd van droefheid uitgespreek.

Sy het veral ‘n opregte “dankie” aan diegene uitgestuur wat gehelp het om hul geliefde met waardigheid te begrawe.

Volgens Paulse is Fredericks op Dinsdag 27 Mei met ‘n “mooi begrafnis” by die Welmoed-begraafplaas in Eersterivier ter ruste gelê.

“Ons is nog baie seer ná die verlies. Maar, ons voel gerus dat ons haar lewe met ‘n finale vaarwel kon vier.”

Paulse het verder meegedeel dat Fredericks op Maandag 23 Junie 29 jaar oud sou word. Sy het nie net haar suster, Madeline Fredericks (45), gehelp om haar enigste dogter en die jongste van drie kinders groot te maak nie, maar staan haar ook as onwrikbare steunpillaar by.

“Sy is nog bitter rou, maar my skouers is breed. En so lank as wat die Here my deurdra, sal ek daar wees om haar te ondersteun,” het Paulse gesê.

Fredericks word oorleef deur drie kinders, ‘n 12-jarige dogter wat aan die sorg van Paulse

toevertrou is, en twee kleuters – ses en vier jaar oud – wat by familie aan hul vaderskant woon.

Owerhede op die toneel waar Shantell Fredericks tragies beswyk het.
Die oorledene, Shantell Fredericks.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article