Ná dekades van toegewyde diens aan die onderwys het die Hoërskool Strand se geliefde onderwyser Andries Louw die tuig neergelê.

Die Hoërskool Strand het aan die einde van die akademiese jaar van ‘n geliefde onderwyser en kollega, Andries Louw, afskeid geneem.

Louw is ‘n bekende wat deur talle leerders, ouers en personeel geëer word vir sy onbaatsugtige diens aan die skool. Hy was veel meer as net ‘n onderwyser – hy het generasies gevorm.

Sy klaskamer was ‘n veilige hawe en ‘n plek van ontdekking waar leerders nie net oor Afrikaans en boeke geleer het nie, maar ook van die lewe – en selfs van die wynkultuur. Leerders het geleer om fyn te kyk, mooi te luister en met integriteit te leef.

Sy goeie verhouding met leerders blyk duidelik uit die kontak wat hy steeds met oudleerders behou. Hy het talle leerders geïnspireer om hul drome na te jaag, en baie spog vandag as dokters, wynmakers en skrywers. Elkeen sal sonder huiwering sê dat hy ‘n rol gespeel het in wie hulle geword het.

Sy betrokkenheid buite die klaskamer was net so merkwaardig. Hy was 38 jaar lank by rugby en krieket betrokke as afrigter, skeidsregter, spanbestuurder of die lojale ondersteuner wat nooit ‘n wedstryd misgeloop het nie. Hy het kultuur- en skoolgeleenthede met soveel entoesiasme bygewoon dat dit net nie dieselfde sonder hom sal wees nie. As seremoniemeester het hy elke saamtrek met warmte, humor en styl aangebied, terwyl sy jare lange diens in die beheerliggaam getuig van die vertroue wat kollegas en die gemeenskap in hom gestel het.

Paul Valéry se woorde – “A great man is one who leaves others at a loss after he is gone” – beskryf hom perfek. Die leemte wat hy laat, getuig van die enorme waarde wat hy tot die Hoërskool Strand toegevoeg het.

“Mnr. Louw, ons onthou u met dankbaarheid, respek en groot waardering. U sal vir baie jare nog deel van ons stories – en ons harte – wees. U sal gewis gemis word,” het die skool in ‘n verklaring gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article