Reeksvoorbladbanner met teks oor outisme in die Helderberg, gepubliseer deur DistrikPos en Helderberg Gazette.
LEWE MET OUTISME IN DIE HELDERBERG, ‘n vyf weke reeks deur DistriksPos & Helderberg Gazette

Dis 05:00 in die Meyer-woning.

Alles is doodstil. Skielik gaan die televisie aan en die gebrul van “Impi ya masolider” vul die huis – skerp en onverbiddelik in die vroegmôre-stilte.

Vir die meeste gesinne sou dit ‘n moeilike manier wees om wakker te word, maar vir Megan en Renaldo Meyer asook hul ander twee kinders beteken dit net een ding – hul 14-jarige seun en broer, Reece, is wakker en gereed om die dag aan te pak.

Reece Meyer word elke dag wakker met 'n hart vol rugbytrots.
Reece Meyer word elke dag wakker met ‘n hart vol rugbytrots.

Lang pad na antwoorde

Dit was egter nie altyd so maklik nie. Reece se reis na hierdie punt was gevul met jare van onsekerheid en uitdagings.

Hoewel hy vroeë tekens van outisme getoon het – hy kon op 18 maande nie praat nie en was sensitief vir lig – is sy ouers meegedeel dit was “ ’n ontwikkelingsvertraging”. Ná jare se toetse is vlak 3-outis­me en apraksie uiteindelik in 2018 op sesjarige ouderdom by hom gediagnoseer.

Reece Meyer met sy ma, Megan.
Reece Meyer met sy ma, Megan. Credit: Foto: Barend Williams

Vandag kommunikeer Reece deur Makaton-gebaretaal, ‘n kommunikasieprogram wat diegene met apraksie help om hul gedagtes oor te dra.

Die oggendstryd

“Hy word altyd wakker met ‘n plan en weet presies wat hy vir daardie dag wil dra,” sê Megan. “Dan begin die stryery oor die feit dat hy nie daardie spesifieke uitrusting vir die dag kan dra nie en dat hy sy skooluniform moet aantrek.”

Hierdie daaglikse stryd oor sy skooluniform is net een aspek van Reece se normale oggend. Ná sy oggend-selfversor­ging – waar hy sy tande borsel, hoewel hy glad nie van die sensasie hou nie – vat hy sy AXE-spuitbus en verlaat die badkamer in ‘n wolk van testosteroon-rook.

“Ek sou nie sê dit is rebels nie, maar daar is sekere dinge waarmee hy nie meer gemaklik is nie, want hy is nou groot,” verduidelik Megan.

Transformasie op wiele

Die 15 minute lange busrit na Rusthof Olso vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes verteenwoordig ‘n daaglikse transformasie.

“Reecie Boy” is sy ma se kind, maar as die bus se deure oopgaan en hy sy voete op die skoolgrond neersit, is hy “Reece die Rizzler”.

Tania Louw, die departementshoof van die skool se outisme-eenheid, verduidelik dat leerders geïndividualiseerde onder­steuningsplanne volg.

“Ons hooffokus is dat ons kinders in hul toekomstige lewe onafhanklik moet wees,” sê Louw.

Meer as net skoolwerk

Dr. Monique de Wit van die Universiteit Stellenbosch en ‘n kollega, Naomi Beth Conolly, beklemtoon gespesialiseerde onderwys gaan verder as net akademiese vakke.

“Dit vorm ‘n kind se ontwikkeling, welstand, veiligheid en lewensgehalte direk,” verduidelik hulle.

Kommunikasievaardighede, motoriese ontwikkeling en geletterdheid word alles geïndividualiseer.

Vir Reece is rekenaar-tyd die hoogtepunt van sy skooldag. Tydens ruskans maak hy grappies met sy vriende, maar wanneer juffrou Tania rekenaar-tyd aankondig, is daar net een ding in sy kop.

Tiener wat met sy ma kommunikeer oor sy skooldag deur gebaretaal
Reece Meyer vertel sy ouers elke dag ná skool van sy ervarings by Rust­hof Olso. Regs: Ma Megan

Familie wat aanpas

Die Meyer-gesin het geleer om hul lewe rondom Reece se behoeftes te struktureer. Albei ouers is sportafrigters en Reece pas by hul roetines in: Maandae en Woensdae sokkeroefening saam met sy ma; Dinsdae en Donderdae rugby by die Gustrouw-sportterrein saam met sy pa.

Op die rugbyveld is hy in sy element. Met die gras onder sy voete. die wind in sy hare en die son op sy vel is die oefen-sessies sy eie Nuweland, waar hy nooit bang is in die aanval nie.

Tiener wat rugby speel op die veld tydens oefensessie
Reece Meyer in sy element op die rugbyveld.

Aande word gekenmerk deur gesinstyd voor die televisie. Reece kies altyd rugby-oorlogskrete vir die gesin se kyktyd en vertel sy dag deur Makaton-gebare met sy mond wat ‘n “T” vorm wanneer hy van juffrou Tania praat.

Tydlyn wat tiener se gestruktureerde dag van oggend tot aand uitbeeld
Reece se gestruktureerde dag: Van vroegmôre-rugbykrete tot aandkyk-keuses

Uitdagings en groei

Nie elke dag is maklik nie. Soms word Reece oorgestimuleer en raak hy uitgeput.

“Ons kan op ‘n moeilike dag sien dat iets hom ontstel het en ons kan hom nie verstaan nie. Hy sal ‘n stryery begin en soms kom daar ‘n punt waar hy begin skree,” verduidelik Megan.

Maar Reece is ook nou ‘n tiener en dit beteken meer aanpassing. Sy stem is besig om te breek en hy voel nie altyd gemaklik om sy ma se hand vas te hou nie. Vir Megan is dit ‘n goeie teken – dit bring hom nader aan onafhanklikheid.

Drome in swart

Reece het duidelike toekomsvisies. Elke oggend raak hy vasgevang in die wêreld van begrafnisse op YouTube, gefassineer deur die kiste en blomme, maar veral deur die swart pakke. Hy sien nie net deftige kerkdrag nie – hy sien sy drome.

Soms trek hy sy swart pak aan en boots dit na dat hy ‘n begrafnis uitvoer. Dit is meer as net spel – dit is sy beroepsvoorbereiding.

Met vier jaar oor by Rusthof Olso fokus Megan op haar seun se toekoms.

“Ek dink hy is aanstelbaar en sy droom is natuurlik om ‘n begrafnisondernemer te wees,” sê sy hoopvol.

Kundiges sê die ontwikkeling van kommunikasie en onafhanklikheid in selfsorg kan baie help. “Maar vir sommige mense met outisme beteken onafhanklikheid nie om alleen te woon nie, maar eerder in onder­steunde leefomgewings,” verduidelik hulle.

Vir die Meyer-gesin gaan dit oor meer as net Reece se diagnose – dit gaan oor ‘n seun wat elke dag opstaan met ‘n plan, wat van “Reecie Boy” na “die Rizzler” transformeer, en wat droom van ‘n toekoms in ‘n swart pak.

 Volgende week: Volwassenes met outisme se onafhanklikheid-ervarings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article