“Aan almal wat die rolbalklub en sy vriendelike, liefdevolle lede ken – dalk kan jy miskien help om hierdie probleem op te los. Alle raad is welkom.”
Met hierdie boodskap herinner die president van die Gordonsbaai-rolbalklub, Estelle Lewis, daaraan dat almal steeds welkom is, al sit dié fasiliteit al ‘n geruime tyd sonder krag.
Die rolbalklub se kragtoevoer is weens beweerde uitstaande munisipale skuld afgeskakel en die klub sukkel reeds byna ‘n maand met hierdie onderbreking.
Volgens Lewis is die klubfasiliteit se kragtoevoer om 12:30 op Vrydag 16 Mei afgeskakel. Die rede vir die afsluiting is dat die munisipale rekening, wat tot honderde duisende rande opgehoop het, vereffen moet word. Lewis het by navraag gesê:
“Die uitstaande erfbelasting beloop R465 358,93. Die eiendomseienaar, Kovacs Investment, het ‘n aanmaning van die munisipaliteit ontvang dat hierdie bedrag betaal moet word, en dit aan ons gestuur.”
Lewis verduidelik dat die klub in Junie 2024 bewus geraak het van die erfbelastingskuld, maar nie daarop ag geslaan het nie omdat dit nie op hul erfnommer verskyn het nie. Sy het vasgestel dat Kovacs
Investment glo op 19 Maart vanjaar hul erfnommer (7304) saamgesmelt het met ‘n ander erfnommer (7231), wat nou uit drie erwe bestaan – die klub se erf en nog twee kleiner erwe, wat ook aan die beleggingsmaatskappy behoort.
“Die eienaar van die erf is gewoonlik die party wat die erfbelasting moet betaal. Ons is al vanaf 1977 op hierdie erf gevestig en dit is die eerste keer dat ons hiervan hoor. Ons het slegs krag betaal en dit is op datum,” sê Lewis.
Volgens Lewis het sy bewyse dat die klub se kragrekening betaal is en dat geen skuld op die rekening aangedui word nie. Sy was egter by die munisipaliteit nadat hul rekening oorgedra is na die rekening van erf 7231 om die probleem te probeer oplos, “maar omdat ons nie die eienaars van die erf is nie, mag die munisipaliteit ons geen inligting gee nie”.
Nuwe perseel vir klub gesoek
Sy verduidelik voorts dat sy ná die besoek aan die munisipaliteit op 2 Mei ‘n SMS as kennisgewing ontvang het. Dit is opgevolg met ‘n tweede boodskap wat haar ingelig het dat die saak “gesluit” is.
Gevolglik het hulle regsadvies ingewin en ‘n prokureur genader wat nou die saak behartig.
“Die Gordonsbaai-rolbalklub kan nie ná al dié jare – 48 jaar – verantwoordelik gehou word vir hierdie uitstaande bedrag nie. Erf 7231 het uit verskeie erwe bestaan wat onderverdeel is, en elkeen het sy eie erfnommer gehad, soos deur die munisipaliteit toegeken. Ek het dit verlede jaar op ons vergadering aan Kovacs verduidelik. Ons was op ons eie erf, nommer 7304.
“Kovacs het die erwe in Maart 2025 by die munisipaliteit laat verander en die drie erwe as die restant van erf 7231 laat regi- streer. Dit verstaan ek ook nie, want hoe kan ‘n mens ‘n erfnommer toeken en dit dan weer na die ou erfnommer verander?”
Volgens Alec Acavalos het Kovacs Investments 108 (Edms.) Bpk. (Kovacs) en sekere ander ontwikkelaars grond van die munisipaliteit verkry om ‘n residensiële kompleks op sekere voorwaardes te bou. Een van die voorwaardes is dat die rolbal- klub, wat op een van die eiendomme, wat nou aan Kovacs behoort, geleë is, eers verskuif moet word na ‘n nuwe terrein wat deur die munisipaliteit voorsien word.
“Tot nou is geen geskikte eiendom wat vir die rolbalklub aanvaarbaar is, geïdentifiseer nie, maar onderhandelinge is aan die gang. Die geskil draai tans om die belasbare waarde van die eiendom, wat die munisipaliteit teen kommersiële tariewe waardeer, terwyl Kovacs en die rolbalklub beweer dat dit as ‘n gemeenskapsontspanningsfasiliteit gewaardeer moet word totdat die verskuiwing gefinaliseer is.”
Acavalos verduidelik voorts dat, met betrekking tot die vraag oor wie vir die belasting en dienste verantwoordelik is, dit duidelik is dat die rolbalklub, as besetter en gebruiker van die grond, wel aanspreeklik is. Die dispuut handel egter oor die bedrag van belasting wat gehef word.
Diens aan gemeenskap
“Tans is onderhandelinge aan die gang om die probleme op te los, maar ongelukkig het die munisipaliteit, in ‘n poging om ‘n besluit af te dwing, eensydig opgetree en die elektrisiteitstoevoer na die rolbalklub afgesny. Ek vertrou hierdie saak sal met die welwillendheid van almal wat betrokke is, spoedig afgehandel word.”
By navraag aan die Stad Kaapstad, het Siseko Mbandezi, die burgemeesterslid vir finanasies, gesê die Stad mag ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) geen rekeningverwante inligting openbaar nie.
Mbandezi verduidelik dat munisipale rekeninge meestal eiendomsbelasting en dienstekoste soos water, riool, elektrisiteit en vullis insluit en dat alle munisipaliteite op agterstallige munisipale rekeninge rente hef. Hierdie rente word bereken op die uitstaande skuld sedert die vervaldatum.
In terme die Stad se beleid oor elektrisiteitsonderbreking weens wanbetaling, implementeer die Stad skuldinvorderings- optrede teen inwoners en ondernemings met uitstaande skuld volgens die
kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid. Maatreëls sluit in die ontkoppeling van elektrisiteitsdienste, invordering van skuld deur voorafbetaalde-elektrisiteit-aankope en aftrekking van munisipale skuld deur die voorafbetaalde-elektrisiteit-verkoperstelsel. Die proses verseker dat skuldenaars vooraf in kennis gestel word, tyd gegee word vir reëlings en geleentheid gebied word om skuld te vereffen of betalingsreëlings te tref. Indien kennisgewings geïgnoreer word, gaan die skuldinvorderingsproses voort, wat tot ‘n elektrisiteitsonderbreking kan lei.
“Skuldenaars moet met die Stad kontak maak om óf hul uitstaande skuld te vereffen óf om ‘n rentevrye betalingsreëling aan te gaan,” sê Mbandezi.
Intussen probeer die klub en sy lede om die beste van ‘n slegte saak te maak.
“Ons gaan steeds aan sonder krag, maar tog beïnvloed hierdie situasie ons in ‘n groot mate. Ons gebruik ‘n kragopwekker om die rolbalbane te onderhou. Beligting by die klub word deur lede by hul huise herlaai en dan weer na die klub gebring om lig te verskaf. Ons kan nie ons yskaste aansit nie – daarom koop ons tans ys. Die lede van die klub moet ook die wasgoed by hul eie huise doen,” verduidelik Lewis.
Die klub moes twee belangrike byeenkomste uitstel, waarvan een ‘n jaarlikse geleentheid is wat vir voorverlede naweek beplan was, maar nou na die einde van die maand verskuif is – deels weens die kragonderbreking, maar ook as gevolg van die ongunstige weersomstandighede.
Die klub kan ook verskeie aktiwiteite nie meer aanbied nie.
“Ons gee gewoonlik op Vrydagaande etes wat baie bekostigbaar is by die klub. Ons kan dit nie meer doen nie. Ons is ook baie betrokke by die gemeenskap, veral wat die kinders betref. Ons is ‘n basis in Gordonsbaai met baie nasionaliteite en ook ‘n aantrekking vir die hele gemeenskap.”
Volgens Lewis word die Gordonsbaai-rolbalklub as die mees sosiale klub in die kom beskou. Sy deel ook dat die klub met ongeveer 120 toegewyde lede pronk en dat hulle ook elke Dinsdag afrigting aanbied. Daarby is Sondae ‘n sosiale dag waar almal wat nog nie rolbal gespeel het nie, kan kom probeer en die klub kan leer ken.
“Op die oomblik het ons nie elektrisiteit nie, maar ons is steeds dieselfde klub wat daar is vir ons gemeenskap. Almal is altyd welkom by die klub. Ons vra die publiek om ons asseblief in hierdie moeilike tyd te ondersteun, en ons glo dat ons ‘n deurbraak sal maak met harde werk en baie geloof,” sê Lewis in ‘n boodskap aan die gemeenskap.
Sy spreek verder haar dankbaarheid uit aan die Strand- en Helderberg-rolbalklub wat aangebied het dat klublede hul geriewe kan gebruik, asook Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) wat seker maak dat hul perseel veilig is.




