Onderwyseres Raine Fairbairn se graad tweetjies met hul verjaardagkaartjies aan die skool.

Credit: SYSTEM

’n Plaaslike laerskool, wat getrou volhard in sy leuse om onkunde te bestry, vier vanjaar nege dekades van uitnemendheid.

Danie Ackermann Primêre Skool in Somerset-Wes blaas vandeesmaand (Mei) 90 kersies op sy verjaardagkoek uit en het die merkwaardige mylpaal met ’n reeks spesiale geleenthede gedenk. Die verjaardagvieringe het Vrydag 3 Maart met ’n opwindende kaskarren, gevolg deur ’n pretdag vir die hele gesin op Saterdag 4 Maart begin. Die vieringe is Vrydag 5 Mei met ’n lekker langarm-dans hervat en Woensdag 17 Mei voortgesit met ’n verjaarsdagpartytjie vir die skoolleerders, die kosbare Trip Down Memory Lane-geleentheid vir oud-opvoeders van die skool, verlede Saterdag (20 Mei) en ’n dankseggingsdiens in die Hoërskool Gordon-skoolsaal verlede Sondag (21 Mei). Die skool beplan om die jonger ouers met ’n jolige karaoke, wat vir September in die pyplyn is, te bederf.

“Die skool is ’n standvastige 90-jarige opvoedkundige instelling wat op ’n rotsvaste fondasie gebou is. Ons streef om op hierdie stewige fondasie voort te bou,” sê die skoolhoof, Mark Manus, in die lig van die skool se 90ste bestaansjaar.

Manus het voorts verduidelik die skool, volgens bronne, het sy bestaan as ’n klein Nederduits-gereformeerde-sendingskool op 18 Mei 1933 gevind. Die kerkskool is toe deur Danie Ackermann uit ’n stal, wat as twee klaskamers ingerig was, bestuur.

Ackermann se invloed het die skool se groei bevorder en later is nog twee klaskamers, ’n kantoor ’n pakkamer aangebou.

Mnr. A. May is as die eerste skoolhoof aangestel, en sy opvolger was AJ Cloete in 1938. Mnr. N.Z. le Fleur het die leisels as skoolhoof in 1944 oorgeneem en moes toe middag-klasse instel omdat die skool te veel kinders gehad het. Leerders van die onmiddellike gemeenskap asook omliggende omgewings en plase het onderrig by die skool ontvang.

Le Fleur was ’n verfynde, wellewende mens wat werk- en skooltrots beywer het. As gevolg van sy bewonderenswaardige dienslewering en insae, het dié gesegde glo ontstaan: “Mnr. Le Fleur het van die eens growwebrood-skool ’n witbrood-skool gemaak.”

Die skool het in 1955 ’n staatskool geword en sy naam as Danie Ackermann Primêre Skool gekry. Die skoolgebou is in 1969 opgerig en Mnr. J. Stone het die jaar daarna (1970) die skoene as skoolhoof volgestaan en met trots voortgebou op dit wat Danie Ackermann bo die res laat uitstaan het.

Hierna het skoolhoofde soos K. February, K. Arendse en H. Swart gevolg.

“Vandag is Danie Ackermann Primêr ’n trotse skool wat diversiteit bevorder en waar 1 200 leerders onderrig in ’n veilige omgewing ontvang. Die skool pronk met 42 onderwysers en ondersteunings-personeel, sewe nuwe klaskamers, wat onlangs aangebou is, en ’n naskoolse verrykingssentrum vir leerders is ook in die pyplyn, asook die gewaardeerde ondersteuning van niewinsgewende organisasies soos Imibala, Gray Swan en Eagle Rising Leadership Academy,” het Manus bygevoeg.

Die skool, wat doelgerig gefokus is op die holistiese ontwikkeling van elke leerder op akademiese, sport, kulturele en sosiale vlak, het hom oor die dekades heen as ’n baken van hoop, omgee, vertroue en ondersteuning gevestig waar leerders tot hul volle potensiaal ontwikkel en vir ’n blink toekoms toegerus word. Die skool se grootste trots is leerders wat bo hul omstandighede uitstyg en loopbaansukses behaal.

Danie Ackermann pronk met talle leerders wat in die sport-, sake- en vermaaklikheidswêreld uitblink. Onder talle uitdagings wat gelys word, is die grootste steeds die gebrek aan ’n skoolsaal, wat leerder-byeenkomste veral in die koue wintermaande bemoeilik omdat dit buite in die vierkant gehou moet word.

“Ons toekomsplan is om die skool voort te bou as ’n baken van hoop, trots en respek vir leerders,” het Manus gesê.

“Ons verjaardagwens is dat elke leerder, onderwyser, ouer en besoeker wat die skool betree, moet aanvoel dat orde en onderrig-veiligheid geld. Die hoop is dat ons nog jare sal strewe dat die skool ’n unieke instelling sal wees.”

Manus het in die lig van die mylpaal-vieringe hierdie boodskap aan die skoolgemeenskap uitgespreek: “Ouers – bly betrokke. Leerders – gee altyd jul beste. En onderwysers – onthou, wees ewig getrou aan die skool se leuse – ‘Beveg onkunde’.”

Agter (van links) is Jeremy Prins, Rene de Vries, Adriane Dirkse, Erin Hans, Raymonde Smith, Lauren van Rhyn, Wilna Clark, Celine Moses en Oscar McHelm. Voor: Mark Manus, Mandy Reid, Keith Myburgh, Lucretia Steyn, Ettiene Koert en Bryan Meyer.

Melissa Hendricks, Andrea Driver, Shaun Ryk, Lucretia Steyn, Michelle Jacobs en William Hendricks.

Trots op Danie Ackermann Primêr se mylpaal is (agter, van links), Howard Gordon, Herman Poole, Ebrahim Railoun, Lorraine Baard, Elizabeth Adams, Joy Sylvester, Lawrence Felton, Sonia Leibrandt; (voor) Baronese Manus, Shirin Daniels, Joyce Solomons, Maureen Oliphant en Rene Christians.

Agter (van links): Mark Manus en Lucretia Steyn. Voor: Lucinda Kleynhans, Ellizanne Nell en Samantha Jacobs.

Maureen Oliphant, Ebrahim Railoun en Elizabeth Adams was deel van die spesiale verjaardagvieringe.

Danie Ackermann Primêre Skool blaas vanjaar 90 kersies op sy verjaardagkoek uit.

Graadeentjie Skyler Meyer spog met haar verjaardagkaartjie aan die skool wat sy 90ste bestaansjaar vier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article