Abdullah Daggia is verlede Donderdag ingevolge Moslem-tradisie in Strand begrawe. Foto: Rick Marais


Vier verdagtes wat onderskeidelik in hegtenis geneem is vir twee afsonderlike noodlottige steek- en skietvoorvalle sal vandeesweek vir ’n formele borgtogaansoek in die Strand-landdroshof verskyn.

Die moordverdagtes is aangekeer ná die tragiese verlies van twee jong mans uit twee Strand-gemeenskappe. Die tiener Angelo Matroos is verlede Woensdag (18 Mei) in die fleur van sy lewe in ’n vermeende bendeverwante voorval doodgeskiet. Dié voorval is gevolg deur ’n messteekvoorval, wat die jongeling Abdullah Daggia geëis het.

Die eerste tragedie het omstreeks 11:30 in Petuniastraat, Broadlandspark, afgespeel toe die 18-jarige Matroos doodgeskiet is.

Slegs twee uur hierna is Daggia deur drie vermeende rowers op die hoek van Eerste- en Visserstraat in die Rusthof-woonbuurt geteiken (“Steekvoorval in Strand eis lewe,” Netwerk24, 18 Mei). Die 33-jarige is na bewering vir sy selfoon vermoor. Drie verdagtes – twee mans (34 en 36), en ’n 34-jarige vrou – is later dieselfde aand vasgetrek (“Twee moorde in twee ure ruk Strand-gemeenskap,” 19 Mei).

Daggia is ’n dag ná sy moord ingevolge die Moslem-tradisie begrawe. Sy jonger suster, Aisha, het haar geliefde broer beskryf as iemand wat maklik vriende gemaak het en ’n geliefde onder almal was. “Hy het deeltyds wiskunde gestudeer en was op pad na die biblioteek om ’n groep mense te gaan ‘tutor’ toe hy doodgesteek is,” het sy gesê.

Sy het voorts gesê die gesin sal Daggia se persoonlikheid mis, asook wat hy vir elke familielid beteken het.

Naasbestaandes van Matroos het hom beskryf as ’n gelukkige kind wat sy plek geken het en ander met sy grappies vermaak het. Hy het gedroom om eendag by die weermag aan te sluit.

“Ten spyte van wat owerhede beweer, was my kind nie ’n bendelid nie,” het sy ouer gesê. ’n Begrafnisdiens vir Matroos vind Saterdag (28 Mei) om 10:00 by die Ou Apostoliese kerk in Twaalfdestraat plaas.

Die 21-jarige verdagte in sy moordsaak verskyn vandag (25 Mei) vir sy borgtogaansoek terwyl die drie verdagtes in Daggia se moordsaak Vrydag (27 Mei) sal verskyn. Daggia se familie beplan om ’n petisie op te stel om borgtog teen te staan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article