Die gereg het twee jongmanne van Strand, wat albei verlede jaar wreed vermoor is, gefaal toe die sake teen die moordbeskuldigdes in die afsonderlike moordsake verlede Maandag en Dinsdag (27 en 28 Februarie) teruggetrek is.

Beide Abdullah Daggia (33) en Brancoulin Fritz (19) is in twee afsonderlike messteekvoorvalle in Strand dood. Daggia is Woensdag 18 Mei vir vermoedelik sy selfoon op die hoek van Eerste- en Visserstraat in Rusthof doodgesteek (“Steekvoorval in Strand eis lewe,” Netwerk24, 18 Mei).

Fritz is presies ’n maand later, op Saterdag 18 Junie, ná ’n onderonsie by ’n partytjie in Rusthof in ’n noodlottige steekvoorval vermoor. Hy is in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk (“Ek steier oor my seun se dood”, DistriksPos, 22 Junie 2022).

Verdagtes in die sake

Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers, wat weens die moord op Daggia in hegtenis geneem is, het telkemale in die hof verskyn. Al drie is op 1 November verlede jaar in die Strand-landdroshof borgtog geweier.

Die Fritz-saak se minderjarige-verdagte was die enigste verdagte in die twee sake wat in Oktober op R1 000-borgtog vrygelaat is. Hy is in huisarres geplaas en kon net van die huis af skool toe en terug beweeg. As die 17-jarige op enige ander plek gewaar word, sal hy weer in hegtenis geneem en sy borgtog teruggetrek word.

Vroue in Aksie se mening oor die sake

Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, sê hulle is geskok dat al twee sake teruggetrek is.

“Die dag voordat Fritz se saak voorgekom het, het ’n speurder Fritz se ma, Johanna, ingelig dat ’n getuie in die saak nie meer wil getuig nie. Johanna het ons ook ingelig dat die landdros nie die saak langer wou uitstel nie, al wou die speurder gehad het dat die Fritz-saak verder uitgestel word sodat hy die ondersoek kon afhandel,” sê Motasi.

Volgens haar het die moord plaasgevind tydens ’n voorval waar baie ooggetuies – nie net een nie – teenwoordig was, dus kan ander mense ook praat oor wat daar gebeur het.

“Die verklaring wat die getuies voor die staatsaanklaer moes aflê, is nooit afgeneem nie, want die getuies het glo kop uitgetrek nadat hulle aan die begin wel verklarings afgelê het.”

’n Optog is juis in Desember verlede jaar gehou oor ’n klomp ander moord-sake uitgegooi is.

“Fritz se saak was nog by die laerhof. Die dossier was onvoltooid en die landdros kon nie die saak na die hoër hof verwys nie.”

Motasi sê in die Daggia-saak kan ’n mens sien die soort speurwerk wat in die saak gedoen is, is baie swak.

“Die bewyse is nie op die regte manier hanteer nie. Die monsters wat by die laboratorium ingegee is, is eers later oorhandig nadat die speurder glo vir die landdros gelieg het dat hy al klaar die monsters ingestuur het, maar net ‘nooit ’n invoice van die laboratorium gekry’ het om dit te bewys nie. Van Mei verlede jaar tot Februarie vanjaar is ook baie min werk in daardie saak gedoen, en die hof kon niks anders doen as om die beskuldigdes vry te laat nie,” verduidelik Motasi.

GPF nie gelukkig met sake wat uitgegooi is nie

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê ook die moordsake is nie korrek ondersoek nie.

“Ons gaan al die moontlike doen om te verseker dat geregtigheid geskied. Dit is weer eens ’n bewys dat daar ernstige gebreke is tussen die ‘gewone’ polisie en die speurders sowel as wankommunikasie tussen justisie en die NVG, wat daartoe lei dat ernstige sake van die rol geskrap word.” Families treur oor die sake se nuwe wendings

Die Daggia-familie is in hul “diepste wese geskok” oor die saak wat uitgegooi is.

“Ons is ingelig oor die onbevoegdheid van die ondersoekende beampte in die saak, wat daartoe gelei het dat die staat geen saak sal kan bewys nie.

“Dit voel of die regstelsel ons gefaal het. Die moordenaars kan met hul lewe voortgaan, maar ons sit met die verlies van Abdullah,” sê een van Daggia se familielede.

Johanna, Fritz se ma, het geen woorde nie.

“Ek is gebreek. Ek het geen verdere woorde nie.” . Die Vroue in Aksie-beweging gaan later hierdie week met albei families vergader en dan aan die pad vorentoe begin werk om te kyk of die sake weer die nodige aandag kan kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article