‘n Gevestigde huiswerkklas in Macassar, wat kinders al langer as ‘n dekade ondersteun, het sy dienste as nasorgskool uitgebrei om vroeë skoolverlating te bekamp en leerders se akademiese sukses te verseker.
Clever Bears, wat in 2012 gestig is deur ‘n opvoeder met 27 jaar se ondervinding in spesiale onderwys, het van ‘n eenvoudige huiswerkondersteuningsmissie gegroei tot ‘n omvattende onderwysondersteuningsdiens wat ouers en leerders op verskeie vlakke bystaan. “Ons sien te dikwels dat kinders wat tot in gr.9 in hoofstroomskole beland, net om dan skool te verlaat omdat hulle nie korrek geëvalueer en geplaas is nie,” verduidelik die stigter, Gwen Phillips.
“Ons doelwit is om hierdie situasie te voorkom deur vroeë evaluering en korrekte skoolplasing te bevorder.”
Om nader aan hul kernmissie te kom, het Clever Bears strategiese vennootskappe met Helderberg Aftercare en die Anna- stigting gesmee. Hierdie steun bied puik waarde aan Clever Bears – veral die Anna-stigting se holistiese benadering.
Die Raithby-organisasie, wat al 20 jaar daarna streef om die onderwys- en sosiale behoeftes van landelike kinders op te los en hulle lewenslange leer te bied, het die nasorgskool in Maart amptelik op sy Facebook-blad as deel van die Anna-stigting verwelkom.
Die organisasie sê Clever Bears steun talle leerders deur die 3L-kurrikulum en opleiding wat in vennootskap met die Anna-stigting aangebied word. Opnames toon slegs een uit elke drie kinders kan op graadvlak lees, dus vervul die Anna-stigting ‘n belangrike rol in die stryd teen Suid-Afrika se geletterdheidsgaping.
Die fasiliteerders is daartoe gewy om leerders te help om geletterdheid en syferkundigheid te bemeester en ‘n blywende verskil in elkeen se lewe te maak.
Help ook ouers
Benewens hulp met huiswerk en voorbereiding vir toetse en eksamens, bied Clever Bears se uitgebreide diens nou ook skoolsielkundige verwysings vir ouers, verteenwoordiging by skoolvergaderings waar leerders se vordering bespreek word, en gespesialiseerde steun om selfvertroue by sukkelende leerders te bou – veral met lees en wiskunde. “Baie werkende ouers het eenvoudig nie die tyd vir huiswerk nie en dit is waar ons intree,” sê Phillips.
“Ons missie is om seker te maak elke leerder by ons verstaan die skoolkurrikulum terwyl ons die gaping tussen ouers en opvoeders oorbrug.”
Vir lees gebruik Clever Bears flitskaarte, wat baie doeltreffend is vir leerders wat sukkel. Hulle het opvoedkundige hulpmiddels en spel-apparaat en baie van die leerders se wêreld het verbreed toe hulle aan Uno, legkaarte en ander hulpmiddels blootgestel is.
Clever Bears volg ook ‘n program wat spesiaal deur die Anna-stigting ontwerp is, terwyl hulle een tot een met leerders wat meer aandag benodig, werk.


Die nasorgskool se uitgebreide program sluit ook perdry twee keer per maand by Journey’s End Stables in Sir Lowry’s Pass in, terwyl personeel gereelde opleiding deur die Anna-stigting ontvang.
Getalle groei
Die groeiende getalle het Clever Bears gedwing om van die Nutec-gebou in Carnationstraat na ‘n veel groter gebou met meer geriewe te verhuis. Die skuif was ook noodsaaklik omdat die nabygeleë kerk sou begin bou het, wat gevaarlik sou wees met kinders op die perseel.
Klastye is van 13:00 tot 17:00, en Clever Bears het nou ook ‘n gr.R-klassie bygevoeg om nog vroeër intervensie te bied.
Clever Bears verskaf steeds noodsaaklike maaltye van die Carmen Stevens-voedingstelsel. Die middagete is van kardinale belang, aangesien leerders ná ‘n lang skooldag net beter kan konsentreer wanneer hulle geëet het. Vir sommige kinders is dit hul eerste of laaste maaltyd vir die dag. Die getalle het aansienlik uitgebrei sedert die skuif na die nuwe lokaal – Clever Bears huisves tans 60 leerders, en ouers is baie opgewonde oor die nuwe programme wat aangebied word.
Die nasorgskool het steeds behoeftes. Clever Bears is op soek na vrywilligers en benodig ‘n fotostaatmasjien, afgetrede opvoeders wat kan help met wiskunde en arbeidsterapeute wat dalk een keer per week of per maand kan help. Baie gesinne kan nie altyd die dienste bekostig nie, en daar is lang waglyste by klinieke vir hierdie spesialisdienste. Die inisiatief doen ‘n beroep op die gemeenskap om praktiese hulpmiddels te skenk, insluitend afrolpapier, legkaarte, inkleurkritte, boeke, ‘n gasstoof, balle en enige hulpmiddel wat leerders kan gebruik om leer te bevorder.











You must be logged in to post a comment.