Helderberg-rugbyklub het Donderdagaand 20 Maart sy vierde agtereenvolgende vriendskaplike wedstryd gewen – dié keer teen Van der Stel/Evergreens op die Charles Morkel-stadion in Strand.
Ná seges teen Safcol, Valsbaai en Villager was hierdie geen verrassing nie, maar wel baie bevredigend, aangesien verskeie voorste Helderberg-spelers by Van der stel aangesluit het en die tuisspan in hul plekke verskeie jong spelers kans gegee het – met groot sukses.
Vir Berge was sy kaptein en skrumskakel Michael Visser in topvorm met die gevolg dat sy losskakel, Brendan Venter, en die senters, Quinn Visser en Luke Carew, ook geskitter het.
In die vaste skrums het Berge die botoon gevoer, maar Van der stel het die lynstane oorheers.
Berge se losvoorspelers – sy agtsteman Dyan Koen en flanke Jady Labuschagne en Erhard Lambrecht – het baljaar en in die tweede helfte, so ook die skitterende flank Blaine Skelton. In die eerste helfte het die regtervleuel, Charles Klaasen, en Visser drieë gedruk, met ‘n doelskop deur Visser. Die rustydtelling was 12-8.
Die nat toestande het sekerlik die puntetelling laag gehou. Slegs nog een drie en ‘n doelskop van Visser en ‘n verdoelde drie van Van der Stel is in die tweede helfte bygevoeg met die eindtelling 19-15 vir Helderberg.
Die volgende wedstryde op Charles Morkel is Saterdag 29 Maart teen Uni-Milnerton.



