Die Macassar- en Distrikte-inwonersvereniging (Macdra), wat veral tussen 1990 en 1994 ‘n belangrike rol in die daaglikse stryd van Macassar-inwoners gespeel het, is onlangs ná drie dekades van onaktiwiteit hervestig.
Plaaslike aktiviste wat verantwoordelik was vir die oorspronklike stigting van hierdie dinamiese organisasie het onlangs byeengekom om Macdra weer lewe te gee. Verskeie veteraan-aktiviste is tydens ‘n Erfenisdagviering op Woensdag 24 September vereer vir hul rol in die bevrydingstryd, onder wie Vincent Shabangu, David Kennel, Jan Booysen en Rina Manuel. Die rugbybekendes Gabriel Noble en Warren Wilters is ook vir hul bydrae tot nie-rassige sport as Saru-spelers gehuldig.

‘n Emosiebelaaide skyfievertoning het hulde gebring aan 34 afgestorwe aktiviste, insluitend lede van die Swartbewussynsbeweging, soos Paul Endley en Andrew Adams, Ashley Kriel van Umkonto weSizwe sowel as die Azapo-aktiviste Daniel Cornelius, Jonathan Simons en Gerrit van Rooyen.
Peter Jones, Steve Biko se destydse vertroueling wat instrumenteel was in Azapo se plaaslike tak, is ook gedenk.
Die plaaslike historikus Ebrahim Rhoda het ‘n lesing oor slawerny gelewer, waarna die nuwe tussentydsekomitee van die hervestigde organisasie onder leiding van die voorsitter, ds. Johann Magerman, bekendgestel is.
David Kennel, Macdra se voormalige hoof, is as ere-president benoem.
Die hervestigde organisasie het steun verklaar aan Palestina en beplan om as ‘n organisasie sonder winsbejag te registreer om gemeenskapskwessies soos veiligheid, jeugprobleme, opvoeding en omgewingskwessies die hoof te bied.










You must be logged in to post a comment.