‘n Dekade het verloop sedert ‘n gesin van Sir Lowry’s Pass die hartverskeurende verlies van hul geliefde dogter en suster ervaar het. Dit is ‘n onbeskryflike seer waarmee hulle al tien jaar saamleef – sonder antwoorde op talle vrae en sonder afsluiting wat moontlik vrede kan bring en hul harte kan heel.
Abigail Bell bly vermis sedert sy en twee vriendinne op 5 Januarie 2016 by Dappat se Gat, Kogelbaai, deur sleurstrome meegesleur is. Die koerant het voorheen oor die tragiese voorval berig (“Ma hoop op wonderwerk,” 14 Januarie 2016).
Abigail, wat toe 19 jaar oud was, is daardie middag om 13:40 saam met een van haar vriendinne uit die huis. “Mammie, ons gaan strand toe,” het sy aan haar moeder, Debbie gesê – haar laaste woorde tuis. Die hartverskeurende nuus het die familie om 19:20 bereik.
Volgens die vriendinne se getuienis het hulle die skynbaar rustige water ingegaan, maar is onverwags deur kragtige sleurstrome aangeval.
Een vriendin kon uitswem, die ander een is van die strand af gered, maar Abigail is laas gesien net voordat die stroom haar weggevoer het.
Sy is ten spyte van ‘n uitgebreide soektog deur die NSRI en nooddienste nooit gevind nie.
In ‘n koffie-afspraak met DistriksPos & Helderberg Gazette van die dekade van verlange, deel Debbie soete herinneringe van haar dogter. Sy beskryf haar as ‘n talentvolle, lewenslustige tiener wat betrokke was by alles – van hokkie (eerste span op skool) tot jeugleierskap by die kerk. “Sy was ‘n liefdevolle vriendin met ‘n goeie sin vir humor en ‘n onafhanklike gees,” vertel Debbie.
“Abigail het van jongs af ‘n sterk werksetiek getoon en by verskeie plekke gewerk voordat sy ‘n kontrakpos by haar pa se siviele-ingenieur-maatskappy gekry het. Sy sou daardie Maandag begin. Ten spyte daarvan het sy van ‘n loopbaan as omgewingswetenskaplike gedroom – veral om met diere en die seelewe en in die natuur te werk en dit te beskerm.”
Glinster in die oog
Debbie deel voorts met ‘n glinster in die oog dat Abigail ‘n bewonderenswaardige stylvolle, sentimentele jong vrou was.
“Sy het ‘n gawe gehad om uitrustings uit ons weggegooiklere bymekaar te sit. Sy het ook klein skatte in boksies as kosbare herinneringe bewaar,” het sy vertel.
Debbie sê aanvaarding van haar dogter se verdwyning is steeds baie moeilik. Sy leef met die wete van wat moontlik gebeur het, maar het dit nog nie regtig aanvaar nie. Sy glo egter alles sal uitwerk tot die beste en staan op die Skrifgedeelte wat lui: “Trust in the Lord and lean not op your own understanding.”
“Die Here is die vertrooster, en Hy maak daardie rou, oop wond gesond,” verduidelik sy.
Sy het elke dag op ‘n spesiale stoel gesit en deur die venster gekyk om te sien of Abigail kom. Ná tien jaar sê sy steeds “sy is weg” eerder as “sy is dood”.
“Vanweë die moontlikheid dat Abigail dalk gered is en versorg word, raak ek kwaad wanneer mense sê sy is by die engele of in die hemel,” vertel Debbie.
“Die verlies het ons familie se perspektief op die lewe heeltemal verander. Voor Abigail se verdwyning het ons nie in vrees geleef of gedink so iets kon gebeur nie. Nadat Abigail van ons weggeruk is, raak ons paniekbevange wanneer ons mekaar nie telefonies kan bereik nie. Ons besef nou dat ons nie ‘n uitsondering is nie – die lewe gebeur met almal en daarom tref ons voorbereiding vir die moontlike ergste scenario,” sê sy.
Borskanker oorleef
Debbie het ook borskanker oorleef en moes haar werk as bestuurder van ‘n rehabilitasiesentrum laat vaar omdat die stresvlak te hoog was en sy nie gesond kon word nie. Maar daardie tyd het haar in staat gestel om haar jongste dogter se troue te beplan, ‘n woonstel by hul huis vir die pasgetroude egpaar gereed te maak, ‘n reis na Rome te geniet en Abigail se goedjies eindelik uit te sorteer.
Sy het ook haar eie private praktyk geregistreer en wil graag ‘n trauma-sentrum open waar mense ‘n veilige hawe kan vind en professionele ondersteuning kan kry, omdat sy self ervaar het hoe belangrik dit is om die regte ondersteuning tydens droefheid te hê.
Sy het voorheen trauma-groepe gefasiliteer, waar mense wat verlies ervaar het, mekaar kan help en ondersteun. Sy glo daar is ‘n groot gebrek aan trauma-nieregeringsorganisasies in Suid-Afrika en dat daar wegbeweeg moet word van die stigma rakende sielkundige hulp.
“Dit is baie moeilik om oor trauma te praat omdat dit alles weer wakkermaak, maar hulp is beskikbaar en mense moet dit opsoek wanneer hulle sukkel. Geen skaamte is daaraan verbonde nie,” beklemtoon sy.
Abigail sou op 7 Februarie haar 30ste verjaardag gevier het. Volgens Debbie probeer hul familie altyd onthou hoe Abigail in verskillende situasies sou reageer het. Hulle wonder wat sy nou sou gedoen het, of sy getroud sou gewees het en hoe sy vir haar verjaardag sou gevier het.
Haar boodskap aan ander: “Dinge sal beter word. Elke mens genees teen sy eie pas. Indien jy moet, kry professionele hulp.”





