AfriForum se Helderberg-tak het kragte saamgespan vir skenkings om ’n groente- en blomtuin by die Bizweni-sentrum vir kinders met gestremdhede aan te bring.


AfriForum se Helderbergkom-tak het in Julie die Bizweni-sentrum vir kinders met gestremdhede besoek.

Die doel van die besoek was om saad, kompos en buitebande aan die sentrum te skenk sodat die gemeenskap ’n volhoubare tuinbouprojek kan begin. ’n Groente- en blomtuin is gevestig en sal deurlopend deur lede van die sentrum en die Helderbergkom-tak onderhou word.

Elke kind het die reg op ’n waardige lewe, versorging en liefde, ongeag sy of haar vermoëns. Ondersteuning en versorging is vir kinders met gestremdhede ’n fundamentele mensereg en ’n uitdrukking van gelykheid en respek, daarom het die tak dit goedgedink om ’n projek te begin wat ’n daadwerklike verskil sal maak deur by te dra tot die versorging van die kinders. Die kinders in die sentrum het self ook ingespring en gehelp om die grond voor te berei en die sade te plant.

“Projekte soos dié het ’n geweldig positiewe uitwerking op almal wat betrokke is. Dit is nie net ’n pragtige tuin nie, dit leer ook die kinders nuwe vaardighede en verantwoordelikheid en sal in die toekoms die sentrum van vars groente voorsien,” sê Jacques Benade, distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by gemeenskapsprojekte soos dié betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum se Helderbergkom-tak aan en maak ’n verskil. Bel Jacques Benade by 081 217 0008.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article