’n Inwoner van Sir Lowry’s Pass (SLP), wat die seer in ander se oë raakgesien en ook baie van daardie seer self beleef het, het al hierdie gevoelens geneem en dit in emosiebelaaide drama-stukke omgeskep.
Lea Coetzee (54) het op 18-jarige leeftyd by haar plaaslike kerk gesien hulle gee pamflette uit met mooi boodskappies daarop – teksverse, maar die meeste mense het die boodskappies vinnig ná kerk weggegooi.
“Ek het besluit om ’n drama te skryf. Ek het begin met twee kinders en later was daar 30 kinders. Ek het toe gesien van die kinders se ouers drink; van die ouers gee nie aandag aan hul kinders nie. Ek het toe die kinders begin nadertrek en hulle by my drama-stukkies ingewerk. Ek het die belangrike rolle vir hulle gegee,” vertel Coetzee.
Die kinders se ouers kon toe sien hul kinders is goeie kinders, wat ’n verskil in die samelewing maak.
“Ek het altyd die honger gehad om te skryf. Ek het nooit my kinders in my stukke gebruik nie, maar ek het hulle altyd vertel van die blapse wat ek in my lewe gemaak het. Ek het my kinders geleer om nie dinge in te hou nie; hulle moet daaroor praat.”
Sy vertel hoe sy jare gelede Pass (SLP) toe getrek het net nadat sy pas van haar man geskei is. Sy en haar kinders het in dié gebied met hul blou Mazda 323 aangekom en sy het dit haar missie gemaak om mense se stories te begin vertel. “Toe ek hier inkom, sien ek die kinders het geen rigting nie. Hulle sit op die straathoeke en rook; hulle gaan net saam met die stroom. Ek skryf toe my eerste stuk genaamd Hoe lyk Sir Lowry’s Pass? en sit toe ’n klomp kinders in die drama. Die een kind hang wasgoed op, die een rook iets, die ander een is net daar op en af. Die stuk is in die gemeenskap by die laerskool opgevoer.”
Sy vertel die stories van die mense wat in die gat langs die N2 woon, Riemvasmaak-informele nedersetting se mense; stories van kinders wat sukkel en veg teen tik; kinders wat op die treinspoor raakgery word en ledemate verloor. “Die drama-stukke skep ’n spieël. Ek is ’n dramaturg ek skryf net die stukke. Die kinders in my stukke word uitgeken vir hul rolle. Die kinders is meer as net stemme in my stories – hulle vertel ander se stories asook hul eie stories.”
In haar tweede stuk genaamd Tik verwoes lewens vertel sy van die impak wat tik op die gemeenskap van Sir Lowry’s Pass het.
“Om tien mense in ’n stuk soos dié te gebruik, was baie. Die een is die hoofmeisie by die skool, maar mense weet nie sy ‘tik’ nie en haar familie is in denial.”
Sy vertel die stories van die stukke so uit haar kop uit. ’n Mens kan hoor sy het dit self geskryf. “My broer het ge-tik. Sy maag het gate ingeval van die tik. Die dokter in die stuk vertel vir die meisiekind sy moet solank die hemel bel, want haar broer is op pad. Dis hoe ek skryf. Ek probeer die stories vertel soos dit regtig in ons samelewing afspeel,” verduidelik sy.
Coetzee vertel stories van verkragting wat families in twee skeur, en stories waarin MIV ook ’n rol speel. “In die een stuk met die tik kom die meisiekind agter sy kan mooi sing. Sy kom agter sy het ’n talent; sy is iets werd.”
Sy skryf die mooi los in elke donker verhaal. Sy vertel kinders van verskeie lewensomstandighede se stories.
“Ek gebruik ’n kind met MIV. Ek gebruik ’n kind wat verslaaf was aan tik. Ek gebruik al dié kinders, maar ek gebruik hulle in ander rolle as die agtergrond wat hulle het, byvoorbeeld ’n tikverslaafde speel die rol van die dokter waar hy ander vertel van die gevare van tik. My stories gee die kinders kans om hul lewe en probleme uit ’n ander oogpunt te bekyk.”
Coetzee is die ma van drie kinders en dis haar groot droom om eendag een van haar verhoogstukke op televisie te sien, sodat haar kinders kan sien hul ma het die stuk geskryf. “Ek wil ook jongmense inspireer om stories te skryf. Skryf jul dramas. Word ’n dramaturg. Vertel stories; moenie bang wees om jul idees met die wêreld te deel nie. As jy ’n idee het, sit dit op jou foon. Jou stories gaan mense se lewens verryk.”




