Sammy Plaaitjies se laaste dag as skoolhoof van Zandvliet Sekondêr het aamptelik aangebreek. Foto: Rick Marais


Die laaste dag van Januarie het nie net die einde van ’n lang maand beteken nie, maar ook die einde van ’n skoolhoof in Macassar se lang loopbaan by die skool.

Sammy Plaaitjies, die hoof van Zandvliet Sekondêre Skool, se laaste dag het op Woensdag 31 Januarie ná 35 jaar van onderrig aangebreek.

“Ek gaan nou fokus op ‘vertical-farming’,” spot die skoolhoof voordat hy begin terugkyk oor sy loopbaan van byna vier dekades as opvoeder.

Hy is van 1989 by Zandvliet Sekondêre Skool en kon sien hoe die skool sedert sy nederige begin tot nou gegroei het. “Die skool as ’n opvoedkundige institusie het nie net in leerdertal gegroei nie, maar ook in opvoeders wat by die skool aangesluit het. Die skool het op kulturele en sportgebied ook gegroei. Dit is egter nie net my handewerk wat die skool tot hier gekry het nie – my voorgangers en die onderwysers het die skool en sy belange eerste gestel sonder om daaroor te mor,” sê hy.

Hy bieg dat hy die leerders en personeel gaan mis.

“Ek gaan die leerders mis. Dis een deel wat ek baie gaan mis. Ek het ’n goeie verhouding met die skool-gemeenskap opgebou, want ek het drie (en in baie gevalle vier) geslagte se kinders by my in die skool gehad.”

Hy gaan die tye van lag en huil en al die oomblikke tussendeur mis, sê hy.

“Ek het die voorreg gehad om vir meer as vyf jaar saam met meneer in die skoolbeheerliggaam te dien, waar hy my onder sy vlerk geneem het, en ek het baie geleer en sal nooit sy goedheid vergeet nie. Toe hy verlede jaar aankondig dat hy gaan aftree, het ons gedink dis net ’n grap, maar met die verloop van tyd het dit ’n werklikheid geword,” sê Louisa Berlin.

As ’n boodskap aan die opvolger wat die leisels by hom gaan oorneem, sê Plaaitjies daar is net een manier om ’n ding te doen, en dis die regte manier.

“Ons glo dat ons begin met God en ons eindig met God. Ons begin nooit ’n byeenkoms by Zandvliet Sekondêre Skool sonder gebed nie.”

Hy sê hy hoop sy opvolger sal dieselfde dinge by die skool toepas en onthou om die skool se etos – dissipline, doelgerigtheid en sukses – ook deel van die skool te maak en daarby te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article