Tientalle kleuters het gretig na die basiese beginsels van padveiligheid geluister.


AfriForum se Helderbergkom-tak het Vrydag 19 April verskeie bewusmakingsveldtogte by plaaslike skole voortgesit.

Leerders van die Laerskool Gordonsbaai het ’n waardevolle les in brandbewustheid en -veiligheid gekry. AfriForum-verteenwoordigers het die leerders ingelig oor brandgevare en hoe hulle hulself kan beskerm in geval van ’n huisbrand.

Die geleentheid het begin met ’n aanbieding deur Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum, wat die leerders van belangrike inligting oor brandveiligheid voorsien het. Hulle het die verskillende tipes brande, die algemene oorsake van brande en die belangrikheid daarvan om ’n brandveiligheidsplan te hê, bespreek.

Die hoogtepunt van die geleentheid was ’n demonstrasie deur die Sir Lowry’s Pas-brandweerpersoneel, wat hul toerusting skool toe gebring het en die leerlinge gewys het hoe hulle brande bestry. Die leerders was opgewonde om die brandbestryders in aksie te sien en om meer oor hul werksaamhede te leer. Hulle het die geleentheid gehad om met die vriendelike brandbestryders te gesels en vrae te vra.

Hulle het die studente gewys hoe om ’n brandslang te gebruik en hoe om as ’n span saam te werk om ’n brand te blus. Die leerlinge kon oefen om die brandslang te gebruik en om ’n gesimuleerde brand te blus. Dit was ’n wonderlike geleentheid vir die leerlinge om praktiese vaardighede in brandveiligheid op te doen en vertroue te kry in hul vermoë om in ’n brandnood te reageer.

“Brandveiligheid is ’n kwessie wat ernstig opgeneem moet word. Dit is belangrik om bewus te wees van die potensiële gevare van brande en om ’n plan te hê om jouself en jou geliefdes te beskerm. Die geleentheid by die Laerskool Gordonsbaai dien as ’n herinnering dat opleiding in brandveiligheid ’n deurlopende proses is en dat ons almal die tyd moet neem om hierdie vaardighede aan te leer en te oefen,” sê Jacques Benade, distrikskoördineerder vir die Boland.

Die plaaslike AfriForum-tak het ook ’n proaktiewe benadering tot padveiligheid geneem deur ’n groep kleuters op te voed oor die belangrikheid van verantwoordelike padgebruik.

Verteenwoordigers het die Helderberg Kids-kleuterskool besoek met inkleurprente, lekkernye en waardevolle inligting wat dié kinders voorts gaan help om paaie veilig te gebruik.

Ongeveer 30 kleuters het gretig na die basiese beginsels van padveiligheid geluister. AfriForum het onder meer inkleurprente en praktiese voorbeelde gebruik om verantwoordelike padgebruik te illustreer.

Sommige kleuters moes vir die res van die klas wys hoe hulle ’n voetoorgang moet oorsteek. Hiermee saam is die kleuters geleer oor die belangrikheid daarvan om maklik sigbaar vir motoriste te wees en om altyd op te let voor, tydens en ná hulle ’n pad oorsteek.

Met behulp van die tak is hierdie inligting op ’n eenvoudige en prettige manier aangebied, wat dit vir die kinders maklik gemaak het om te begryp.

“Padveiligheid is ’n belangrike kwessie wat talle mense, ongeag ouderdom, geslag of sosiale status, raak. Die statistieke oor padongelukke in Suid-Afrika is kommerwekkend, en dit is ons gesamentlike verantwoordelikheid om op te tree om die aantal sterftes op ons paaie te verminder,” sê Marinda Prinsloo, jeugvoorsitter van AfriForum se Helderbergkom-tak.

“Vroeë en omvattende opvoeding oor die belangrikheid van padveiligheid is een van die doeltreffendste maniere om hierdie kwessie aan te pak. Aangesien kinders die toekoms van Suid-Afrika is, moet ons hulle toerus met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om hulself en ander op die pad veilig te hou.

“Hierdeur beskerm ons nie net hul lewe nie, maar kweek ons ook ’n kultuur van verantwoordelike padgebruik. Dit is een van vele goed wat dié AfriForum-tak doen om ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing te skep.”

Lede van die gemeenskap kan www.wordlid.co.za besoek om meer oor die Helderbergkom-tak en sy gemeenskapsprojekte te wete te kom. 
Leerders van Gordonsbaai Primêre Skool leer hoe om

Leerders van Gordonsbaai Primêre Skool leer hoe om met ’n brandslang te werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article