Skenkings van toiletware (soos seep, waslappe, tandeborsels en tandepasta, lyfroom en reukweermiddels en sanitêre produkte) vir die versorgingspakkies sal waardeer word.

Jamey Gordon

Die gereelde prentjie van meisies wat – in plaas daarvan om hul jeug te geniet – met kinders op die heup rondloop, het ’n student in maatskaplike werk, wat die afgelope agt maande as deel van Child Welfare Helderberg die plaaslike gemeenskap dien, geïnspireer om jongelinge op te voed oor tienerswangerskap.

Met die denke dat omstandighede tog nie die enigste rede kon wees hoekom hulle nie hulself hierteen beveilig nie, het Felicia Kamfer ’n gemeenskapsprojek as deel van haar studies van stapel gestuur om dié prentjie te probeer regstel.

Dié vierdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch beplan ’n inligtingsessie met verskeie gassprekers van organisasies insluitend Patch, die Helderberg-sentrum vir kinderslagoffers van seksuele misdaad. Die geleenthied sou Woensdag 28 Augustus by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool aangebied word, maar het egter uitgereën. Dit is gevolglik uitgetsel toto verdere kennisgewing.

Die doel van die geleentheid is om tienermeisies met kennis en die skenking van versorgingspakkies met toiletware en sanitêre produkte te bemagtig sodat hulle hul groot drome met ingeligte besluite sal kan nastreef.

“Ons jeug is ons toekoms, en as ons vandag ons jeug leer oor die gevolge van tienerswangerskap en aan hulle die inligting gee oor die hulp wat beskikbaar is, kan ons ’n lewe red deur slegs ondersteuning te bied,” sê Kamfer.

“Die ideale uitkoms sal wees as leerders vrae aan die gassprekers stel en gesprekke in hul vriendegroepe, in die skool en by die huis met hul familie kan begin oor veilige en gesonde intieme verhoudings.”

Kamfer deel voorts dat die projek haar baie na aan die hart lê – nie net as ’n jong vrou sonder afhanklikes nie, maar as die tannie van ’n tienerma.

“My suster se tienerdogter het onlangs die lewe geskenk, en dit was vir my ’n groot skok. Omdat ek uit ’n huis kom met susters wat almal basies tienerouers was, het ek gedink dit sou vir haar ook dieselfde les wees – om eers vir jouself ’n beter toekoms te bou voordat jy die verantwoordelikheid aanneem om iemand se ma te wees. Dit is egter nie die geval nie.”

Volgens Kamfer het sy uit persoonlike ervaring besef ’n mens kan nie openlik praat oor seksuele omgang en voorbehoedmiddels nie.

“Ek glo egter daardie inligting is alleenlik van kardinale belang vir enige vrou om haar teen tienerswangerskap en onveilige seksuele omgang te beskerm.”

As iemand wat van kleins af ’n groot dromer is en hierdeur geïnspireer is om ’n beroep in maatskaplike werk na te streef, hoop Kamfer om hoop te gee aan ander om groter te droom vir hulself, hul familie en ander mense.

“Maatskaplike werkers help wel individue met hul uitdagings, maar ek dink maatskaplike werkers kan ook daardie hoop vir mense gee om groter te droom deur hul onmiddellike omstandighede te verander,” voer Kamfer aan.

Sy is sedert Maart by Child Welfare Helderberg en doen gevalle-, groep- en gemeenskapswerk.

Sy werk tans met 10 gesinne en lewer terapeutiese dienste om ouers te help om hul probleme op te los, beter verhoudings met hul kinders te bou en hul kinders te beskerm.

Sy bied ook groepwerksessies aan, insluitend ’n ouerskap­vaardigheidsprogram in Sir Lowry’s Pass, waar sy op ouerskapvaardighede en gesonde verhoudings fokus.

Verder reël sy projekte, verkry skenkings en werk saam met ander organisasies om die gemeenskap toegang tot hulp en ondersteuning te gee.

Kamfer is oorspronklik van die Noord-Kaap, waar sy haar skoolloopbaan in Bloemsmond voortgesit en in 2017 aan die Hoërskool Keimoes gematrikuleer het.

“Eendag in gr.8, tydens loopbaanuitstallings, was daar maatskaplike werkers wat toesprake kom lewer het by die skool. Ek het gesit en luister en myself in die maatskaplike werker gesien,” deel sy.

“Die manier hoe sy gepraat het oor die werk wat sy doen en die suksesstories wat sy vertel het, het my geïnspireer, en van daardie dag af het ek in daardie droom gelewe wat besig is om met die hulp van die Here ’n werklikheid te word.”

Kamfer doen ’n beroep op die gemeenskap om haar projek te ondersteun deur toiletware (soos seep, waslappe, tandeborsels en tandepasta, lyfroom en reukweermiddels en sanitêre produkte) vir die versorgingspakkies te skenk.

V Vir meer inligting of skenkings, skakel 021 852 3126.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article