Die onderskeie sake van die moordslagoffers Abdullah Daggia, Byron Gouws en Angelo Matroos het verlede Donderdag (27 Oktober) weer in die Strand-landdroshof voorgekom.
Die 33-jarige Daggia is laatmiddag op Woensdag 18 Mei in ’n mesaanval op die hoek van Eerste- en Visserstraat in Rusthof vermoor. ’n Paar ure voor dit, op dieselfde dag, is 18-jarige Matroos in ’n vermeende bendeverwante-skietvoorval in Petunia-straat, Broadlandspark, dood. Sewentienjarige Byron Gouws se pa, Ashford, het sy lewelose liggaam Sondag 31 Julie in Broadlandspark aangetref. Gouws is na bewering elders deur twee mans met ’n byl en ’n mes aangeval en sy lyk is daar gestort.
Angelo Matroos se saak het ’n interessante wending geneem toe die polisie se teenbende-eenheid nog ’n verdagte weens die moord op die tiener in hegtenis geneem het. Shaun Heyns is as die tweede verdagte saam met Farouk Koopman geïdentifiseer. Koopman is kort ná Matroos se moord in hegtenis geneem. Sy borgtogaansoek is op ’n vorige geleentheid afgekeur.
’n Betroubare bron by die Strand-landdroshof het bevestig net Heyns kan – wanneer die saak Donderdag 3 November hervat – om borgtog aansoek doen.
Beverly Thomas, Matroos se ma, het die polisie se teenbende-eenheid vir die inhegtenisneming bedank, maar sê die verlange na haar seun is steeds groot. “Die saak krap al my ou wonde weer oop. Dit gaan moeilik by ons huis, want Angelo en sy tweelingsussie se verjaarsdag sou Woensdag 2 November gewees het,” sê Thomas.
In die Gouws-saak sal die twee beskuldigdes, Damian Morris (23) en Walter September (26), eers Maandag 19 Desember, wanneer die saak hervat, weer in die hof verskyn. Dié twee het hul eerste formele borgtogaansoek Woensdag 10 Augustus gedoen en is kort daarna op borgtog vrygelaat.
Die moordsaak van Daggia het Woensdag 19 Oktober ook ’n nuwe wending geneem toe die ma van een van die beskuldigdes deur die landdros in die saak gedagvaar is. Die drie beskuldigdes – Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers – het onlangs weer aansoek om borgtog gedoen.
Volgens die bron het Hammers weer in die hof verskyn nadat sy haarself die vorige keer weerspreek het en die hof haar ma (Mary) moes dagvaar om in die saak te kom getuig. “Sy (Hammers) het op ’n vorige keer getuig haar ma (Mary) sien na haar kinders om, en dis hoekom die hof haar ma gedagvaar het om te kom getuig dat sy wel self na die kinders omsien. Almal het gewonder hoekom Hammers haarself “weerspreek het” nadat sy gesê het sy het self (haar) kinders versorg en kan steeds na hulle omsien as sy borgtog kry,” vertel die bron.
Volgens die bron was dit vreemd dat Hammers na haar ma aan die begin van die hofsaak as “sieklik” verwys het nadat sy onlangs by die hof was en glad nie “sieklik” gelyk het nie. “Al die leuens is uitgewys in Sadia se getuienis en die uitspraak van haar borgtogaansoek is tot gister (Dinsdag 1 November) uitgestel,” voeg die bron by.
Teen druktyd was geen inligting oor Hammers se borgtogaansoek beskikbaar nie.



