’n Sesjarige leerder van Danie Ackermann Primêre Skool is Maandag 13 November op pad huis toe van sy nasorg af vermoedelik deur leerders van die Hoërskool Gordon geboelie voordat hulle sy Nike Dri-FIT-pet van sy kop af gegryp het.
Lizane Robertson, die seun se ma, wat verkies dat haar seun, wat in Graad-R is, se naam nie genoem word nie, is woedend. “Dit gaan nie vir my oor die ‘keppie’ nie. Nee, dit gaan oor my kind wat geboelie is deur ’n groep van sewe leerders van die hoërskool,” sê sy.
Die bekommerde ma het gesê sy het die Hoërskool Gordon se skoolhoof gekontak, maar sedertdien is nog niks verder aan die saak gedoen nie.
“Die skool moet iets doen, want dit is nie die eerste keer dat die groepie ander leerders afknou en boelie nie. Ek het al gehoor van ander gevalle. Hoe kan ek verwag dat my kind veilig gaan wees? Ek wil gerus wees met die wete dat my kind veilig is.”
Sy het gesê sy wil nie nou ’n klagte by die polisie aanmeld nie, want sy wil nie die leerders se lewens benadeel nie. Sy soek egter antwoorde en wil weet dat so iets nie weer sal gebeur nie – nie met haar kind of ’n ander kind nie.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het bevestig die Hoërskool Gordon het saamgewerk en terugvoer gegee.
“Voorvalle soos hierdie is moeilik om te bestuur omdat dit buite in die gemeenskap plaasgevind het, en nie by die skool nie. Dit is leerders van die Hoërskool Gordon – hulle het (ten tyde van die voorval) die skool se uniform aangehad,” sê Hammond.
Sy voeg by die skool het die groep leerders identifiseer nadat die slagoffer se ouers kom kla het.
“Die individu (leerder) wat die (klaer se seun) aangerand en sy pet gevat het, is nie uitgewys nie. Dit beteken ook dat die pet nog nie aan die leerder teruggegee is nie. Die skool is ongelukkig dat die saak nog nie opgelos is nie en probeer steeds om die leerder te identifiseer sodat hulle tugstappe kan instel juis omdat die voorval die skool se naam skade berokken het.”
Sy het uitgebrei dat die Hoërskool Gordon dié soort gedrag van leerders gewis nie duld nie.
“Terwyl skole ’n rol het om in die vorming van ons jeug te vervul, het ouers ook ’n rol om te speel deur waardes soos vriendelikheid, liefde en omgee teenoor ander in hul kinders te vestig.
“Om jonger kinders soos hierdie uit te buit, is lafhartig en skandelik,” sluit Hammond af.

