Kunstenaar Albert Luckhoff van Strand saam met Machie, sy 'vervanging van 'n verlore juweel'.
Albert Luckhoff en Machie: ‘n Ware verlore-­en-gevind-sprokie. Foto: Barend Williams

Eers ‘verlore’, toe weer ‘gevind’: Strand se hondesprokie


“Ek het nooit werklik geglo dat iets wat verlore is, weer kan terugkom nie.”

Só sê Albert Luckhoff van Strand, beter bekend as die kunstenaar ­iMAYAstate ALBArt SAMson, wie se ­storie met sy twee honde Musti en Machie een van die grootste hartseer en diepste geluk is – ‘n ware “verlore en gevonde” sprokie.

Hy het sy geliefde hond Musti in 2021 verloor en geglo hy sou nooit weer so ‘n band met ‘n dier hê nie. Maar ‘n droom, ‘n telefoonoproep en ‘n see-foto het alles verander, en meer as 31 000 Suid-Afrikaners het die res gedoen.

Luckhoff is ‘n bekende gesig in die Helderberg-kunswêreld (“Artist being evicted“, DistriksPos en Helderberg Gazette, 19 Maart 2025).

Die storie begin tydens die Covid-19-pandemie toe Luckhoff hom alleen met Musti in sy woning bevind het.

Albert Luckhoff met sy geliefde hond Musti, 'n bekende gesig op die Strand voor sy dood in 2021.
Albert Luckhoff met Musti, die hondjie wat ‘n bekende gesig op die Strand geword het. Foto: Verskaf

“Dit was letterlik net ons twee, en toe Musti doodgaan, was dit asof ‘n deel van my ook gesterf het,” sê Luckhoff.

Hy het drie weke alleen getreur.

Maar een nag het dié 54-jarige ‘n droom gehad oor die naam Machie, ‘n Zulu-seunsnaam, wat “vervanging van ‘n verlore juweel” beteken.

Dit was toe sy vriendin, Susan Lieben­berg van Upington, hom gevra het of hy haar hondjie Zulu wou hê. Haar man wou hom weggee omdat hy die hoenders op hul plaas gejaag het.

“Ek het onmiddellik geweet dit was bestem dat ek hom moes neem,” verduidelik Luckhoff. “Ek het vir Musti altyd ‘n bynaam gehad: Nunnie van die Vlakte. Toe ek op die kaart kyk waar Susan se plaas geleë is, sien ek dit lê effens noord van ‘n ander plaas met die naam Nunni se Put.”

Die hondjie is na die Helderberg gebring, maar anders as Musti was Zulu nie ‘n seehond nie.

Dit was toe Luckhoff besef – hoe­wel hy ‘n metgesel nodig gehad het, hy ook die hond tyd moes gee om aan die see gewoond te raak.

Maar die twee het mekaar gou aanvaar.

Luckhoff het Zulu herdoop tot Machie, en ná ‘n paar maande het hy by die see tuisgekom.

“Nou lê hy in die nat sand en wag vir die branders om oor hom te spoel.”

Aangesien vriende hom gereeld aangeraai het om Machie as modelhond te gebruik, het dit sin gemaak toe hy die StarPet-kompetisie op Facebook raakgesien het. Die aanlyn platform nooi troeteldiereienaars om foto’s in te stuur en die publiek stem maandeliks vir hul gunsteling.

“Siende dat Machie sy vrees vir die see verloor het, was dit ook die beste plek vir die foto,” sê Luckhoff.

Machie se ikonies see-foto wat hom tot StarPet van die maand gekroon het met meer as 31 000 stemme.
Machie se see-foto wat die nasie laat stem het. Meer as 31 000 stemme in die StarPet-kompetisie. Foto: Verskaf

Oor die loop van Mei het Machie se foto gestyg van die top 2 000 na die sewende plek en is aangewys as die StarPet-keuse van die maand. Vir Luckhoff beteken dit meer as net ‘n mooie hondjie wat mense se aandag trek.

Machie, die hond wat Albert Luckhoff van Strand se lewe na die verlies van Musti verander het.
Machie, Albert Luckhoff van Strand se ‘vervanging van ‘n verlore juweel. Foto: Barend Williams

“Ek het Musti aan die dood verloor, maar Machie is as ‘n ware plaasvervanger teruggestuur. Van hoenderjagter op ‘n plaas naby Nunni se Put in die noorde tot ‘n see-otterjie in die suide,” sê Luckhoff.

“Dis net amper ongelooflik, maar tog moontlik.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article