‘n Man van Sir Lowry’s Pass, wat van die verkragting van ‘n minderjarige aangekla is, is op Maandag 1 Junie in die Somerset-Wes-streekhof gevonnis.
DistriksPos & Helderberg Gazette het voorheen oor die voorval berig (“Stiefpa’s voor ná ‘verkragtings’,” 17 September 2025). Die beskuldigde was een van twee mans wat deur die Somerset-Wes-polisie van die verkragting van hul onderskeie minderjarige slagoffers aangekla is in klagtes wat op 8 September 2025 aangemeld is.
Rushin Meiring van Sir Lowry’s Pass is op dieselfde dag in hegtenis geneem vir die vermeende verkragting van sy vriendin se dogter. Dit is beweer die misdaad is meer as een keer gepleeg. ‘n Naasbestaande van die slagoffer was glo bewus van die misdaad, maar het versuim om dit aan te meld. Dit is uiteindelik deur ‘n bekommerde gemeenskapslid aangemeld.
Meiring het hom vir die duur van die hofproses in die beskuldigdebank bevind en is tot 25 jaar gevonnis, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort is. Hy sal dus 20 jaar direkte tronkstraf uitdien.
Hy is verder onbevoeg verklaar om met kinders te werk, sy naam sal op die nasionale register vir seksuele misdadigers geplaas word en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Zorah Motasi, die voorsitter van die Vroue in Aksie-beweging, het hul dankbaarheid in lig van die vonnisoplegging uitgepreek. “Ons is dankbaar vir die sterk optrede van die staatsaanklaer, die ondersoekbeampte en die landdros, wat ‘n duidelike boodskap uitgestuur het dat seksuele geweld teen veral kinders nie geduld sal word nie,” sê Motasi.
“Die beskuldigde het deur sy skulderkenning bevestig wat die meisie van die begin af gesê het – dat sy die waarheid gepraat het.”
Volgens Motasi kan kinders nie altyd vir hulself praat nie, en as die gemeenskap faal, moet iemand opstaan. “Dít is waarom Vroue in Aksie bestaan. Toe ons in kennis gestel is van hierdie jong meisie se situasie, was dit onmiddellik duidelik dat sy dringend beskerming nodig gehad het – in ‘n omgewing waar mense om haar nie ingegryp het nie en waar sy niemand gehad het om op staat te maak nie.
in hegtenis geneem
“Ons het dadelik die polisiestasie in Somerset-Wes geskakel, vroue-leiers uit die gemeenskap gemobiliseer om die kind te ondersteun, en toe die polisie haar verwyder het, was dit een van ons leiers wat saam met haar na die hospitaal gegaan het sodat sy nie alleen hoef te wees nie. Die verdagte is dieselfde aand in hegtenis geneem en is kort daarna formeel aangekla.”
Motasi deel verder dat Vroue in Aksie gedurende die hofproses saam met vroue-leiers uit Strand en omliggende gemeenskappe saamgestaan sodat die kind altyd verteenwoordiging gehad het. “Ons het ook ‘n petisie ingedien teen borgtog, bekommernis uitgespreek oor die kind se welstand by die maatskaplike werkers, en selfs eerstehands die vyandigheid van die verdagte se ondersteuners in die hofgange beleef. Dit het ons nie afgeskrik nie – dit het eerder bevestig dat hierdie kind iemand nodig gehad het wat bereid is om te staan.”
Ada Buys, die bestuurder van Patch, die Helderberg-sentrum vir kindslagoffers van seksuele geweld, het die uitkoms van die saak verwelkom as ‘n betekenisvolle stap vir die jong slagoffer se herstel.
“Ek is baie bly dat die beskuldigde skuldig bevind is en ‘n straf gekry het,” sê Buys. “Dit is ‘n teken dat sy geglo is en dat sy nou, ten minste vir ‘n rukkie, veilig kan wees van hom.”
Vir Buys lê die werklike waarde van die vonnis in wat dit vir die kind se toekoms beteken. “Die seksuele misbruik hoef nie die grootste deel van haar lewe te wees nie. Nou kan sy fokus op haar genesing – en dit is wat die belangrikste is.”
Buys wys daarop dat die spoedige afhandeling van die saak die kind gespaar het om jare lank te wag om te getuig. “Sy kan volgende jaar hoërskool toe gaan en voel dat sy veilig is, sonder dat die swaard van ‘n hangende saak oor haar kop hang.”
Buys spreek ook haar waardering uit vir die rol wat Vroue in Aksie in die saak vervul het. “Ek is baie dankbaar vir Vroue in Aksie wat opgestaan en druk op alle partye toegepas het om kinders te beskerm. Die gemeenskap sien al vir ‘n lang tyd dat kinders swaarkry.”
Buys sluit af met lof vir die Somerset-Wes-hof. “Ek is baie beïndruk met Somerset-Wes en baie dankbaar vir hulle dat hulle die saak so spoedig afgehandel het.”



