Botsing op Winery-pad eis twee lewens.
Raithby-inwoner Wayne Delport en driejarige Jody Fuller het Sondag 24 Mei op die Winery-pad gesterf toe hul voertuig aan die brand geslaan het.

Twee sterf, nog twee beseer ná tragiese Winery-pad botsing

Botsing op Winery-pad eis twee lewens.
Raithby-inwoner Wayne Delport en driejarige Jody Fuller het Sondag 24 Mei op die Winery-pad gesterf toe hul voertuig aan die brand geslaan het.

Huldeblykke en boodskappe van medelye stroom in vir die Raithby-inwoner Wayne Delport, wat saam met nog ‘n slagoffer in ‘n ongeluk op die Winery-pad die afgelope Sondag (24 Mei) gesterf het.

AO Suzan Jantjies, woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag ondersoek word ná die ongeluk wat net ná 18:00 aangemeld is.

Jantjies sê volgens ‘n ooggetuie het hy ‘n harde knal gehoor en by nadere ondersoek ‘n wit Golf GTI aan die brand gesien.

“Die ooggetuie het daarin geslaag om al die passasiers uit die voertuig te help, en het opgemerk dat twee mense bewusteloos was. Brand-en-reddingsvoertuie was op die toneel om die brand te blus.

“Twee insittendes van die voertuig, ‘n 52-jarige man en ‘n driejarige meisie, het tragies gesterf.

“Die oorledene se vrou is na Tygerberg-hospitaal vervoer en ‘n vierjarige seun is in die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie,” sê Jantjies.

Stuart Grobbelaar, woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, bevestig dat brand-en-reddingsdienste-personeel by die ongelukstoneel was om te help en gebly het tot alles skoongemaak en die pad veilig verklaar is.

‘n Naasbestaande, Leon Fuller, het die familie se skok en hartseer uitgespreek. Volgens Fuller was Delport en sy vrou, Debra Fuller-Delport (50), op pad van Raithby na Strand om haar twee kleinkinders, wat in hul sorg was, na hul ouers te neem.

Fuller het ook gedeel dat die paartjie in Desember in die huwelik getree het.

Gevra oor die omstandighede rondom die botsing, het Fuller gesê hulle weet nie wat presies gebeur het nie. “Ons prioriteit is om die slagoffers se familie te ondersteun,” sê hy.

Volgens hom is Debra en haar kleinseun steeds in die hospitaal waar hulle mediese behandeling ontvang.

Fuller het verder gedeel dat Delport vir sy gesin as broodwinner gelewe het.

“As werknemer by die departement van arbeid was hy nie net vir jare lank ‘n bekende, vriendelike gesig wat altyd behulpsaam was nie, maar ook pligsgetrou en toegewyd – sy werk was sy passie. Hy was ‘n vriend duisend; ‘n goeie mens met ‘n goeie hart,” sê Fuller.

Delport se niggie, Cheryl Williams, het ‘n hegte band met hom gekoester, asook met sy twee broers wat hom oorleef.

“Vriendelik en grapperig – dit was altyd hy,” deel sy, terwyl sy terugdink aan hul kosbare kinderdae by hul ouma se tuiste, waar hulle onbekommerd gespeel het. Sy onthou hom ook as strooijonker by haar troue, en sy waardeer die liefde en toewyding wat hy as peetpa vir haar seun getoon het.

Williams spreek verder haar dankbaarheid uit vir die Godgegewe genade oor Delport se lewe, dat hy destyds ‘n ongeluk oorleef het, en vir elke kosbare jaar wat hulle saam kon deel. “Ons is baie emosioneel en sukkel om die hartverskeurende verlies te verwerk.”

Macassar-inwoner Christiaan Stewart is een van die vele wat boodskappe van medelye op sosiale media gedeel het. Stewart se Facebook-plasing lees:

“Wayne Delport was my skoolmaat by Danie Ackermann Primêre Skool in Somerset-Wes en later by Hoërskool Gordon. Dankie, Wayne, vir jou menswees teenoor almal wat met jou in aanraking gekom het. Jy het ‘n blywende impak gemaak. Mooiloop, my vriend. Rus sag, my broer. Sterkte aan die families, vriende en sy kollegas by die Departement van Arbeid, Somerset-Wes. Ons het ‘n groot vriend verloor. My innige meegevoel aan al sy familie en vriende.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article