Lwandle-polisie ondersoek dierewreedheid ná hond glo met mes aangeval is.
Die Lwandle-polisie ondersoek ‘n geval van dierewreedheid nadat Bobby, die geliefde basterhond van 65-jarige Marie Plaatjies, glo deur ‘n bekende man in Nomzamo gesteek en met wonde in ‘n dierehospitaal opgeneem is.

Die Lwandle-polisie ondersoek ‘n saak van dierewreedheid nadat ‘n hond die slagoffer van ‘n vermeende steekvoorval geword het en met wonde in ‘n dierehospitaal opgeneem is.

Die 65-jarige eienaar van die hond, Marie Plaatjies, het die voorval, wat glo voorverlede Sondag (12 April) in Nomzamo plaasgevind het, op Donderdag 16 April aangemeld. Volgens ‘n polisieverslag het die voorval op die Sondag omstreeks 09:00 in Koyini­straat gebeur.

Plaatjies sê ‘n mede-inwoner het na haar gehaas met die hond nadat die voorval plaasgevind het. Sy glo dat Bobby, ‘n basterhond wat buite op die werf slaap, deur ‘n man, wat aan haar bekend is, geteiken is. Hierdie man het gereeld haar hond met sy honde geteister, veral nadat sy hom onlangs gekonfronteer het toe hy haar eiendom betree het en probeer het om sy honde op Bobby los te laat.

Volgens Plaatjies blaf Bobby baie, maar is hy meestal ‘n bang hond wat niemand of niks byt nie. “Hy is nie bakleierig of aggressief nie. As jy hom laat skrik, hardloop hy weg,” verduidelik sy.

Daardie oggend toe sy Bobby met bloed aan sy nek en een poot sien, het sy onmiddellik ‘n bekende dierewelsynvrywilliger gebel. Die hondjie is na bewering na ‘n diere­hospitaal gehaas, waar hy steeds mediese behandeling ontvang.

“Ek voel baie ongelukkig,” sê Plaatjies. “Bobby is al langer as vier jaar saam met my as deel van ons huishouding. Hy was eers my susterskind se troeteldier, maar die rooibruin-kleurige hondjie het so diep in my hart gekruip dat hy later myne geword het. Ek is so gewoond aan hom hier. Ek kry hom so jammer – hy verdien nie om so seer te kry deur iemand anders se stoutigheid nie.”

Ten spyte van herhaalde pogings, het DistriksPos & Helderberg Gazette nie daarin geslaag om die dierewelsyn-vrywilliger telefonies te bereik nie.

Die polisie ondersoek steeds die saak en geen verdagte is al in hegtenis geneem nie.

  • Die polisie versoek vriendelik dat ­enigiemand wat inligting oor die voorval het, die Lwandle-polisie by 021 845 2060 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 29 April 2026
    DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 29 April 2026

Gift this article