Konstruksiegat in Sercor-rylaan gevul met reënwater tydens winterseisoen
Gate in Sercor-rylaan, wat reeds met reënwater gevul is – presies wat inwoners vrees sal dwarsdeur die winter gebeur.

Inwoners van Broadlandspark in Strand voel die Gordonbaai-pompstasie en stygende hoofleiding-projek is so langdradig soos tande trek.

Met die winter op pad vrees hulle dat bou­werk sal stop voordat dit voltooi is.

Die rede is die sigbare gate in paaie wat soos gate in tande lyk waar die kontrakteur uitgegrawe het om pype te lê.

“Dit is net ‘n gemors en totale chaos!” sê Hannelize de Lange, wat in Sercor-rylaan woon.

Die R279-miljoen projek is daarop gemik om die druk op die Trappies-grootriool te verminder deur rioolwater van Gordonsbaai na Sir Lowry’s Pass via ‘n 7,5-km-pyplyn te herlei. Bouwerk het in Maart 2024 begin en sou volgens ‘n verklaring van die Stad Kaapstad teen Desember 2025 voltooi gewees het. Teen Januarie was die projek slegs 68% klaar en die datum is tot Mei uitgestel.

Die Bosduifweg- en Sercorrylaan-deel van die werk het in Januarie verlede jaar al begin. Die nuutste verklaring stel dit nou op 80%-voltooiing en dit sal na verwagting eers in Junie gereed wees.

“Sal dit klaar wees as hulle so bietjie vir bietjie werk? Ek dink nie so nie,” sê De Lange. Dié 49-jarige woon saam met haar ouers reg voor ‘n opgrawing, wat volgens haar hoofbrekens gee. Sy sê toe die werk begin het, het sy gevoel dit was ‘n goeie ding omdat sy gehoop het hulle sou die swak pad verbeter. Maar dit het oor twee jaar verander tot “ ’n plek van gemors” omdat die gate oop staan – sonder veiligheidshindernisse.

“Nou speel die kinders in die gate,” sê De Lange. Vir haar is die grootste kommer die gebruik van die gate vir beweerde misdadige aktiwiteite.

“Jong mense gebruik die gate om ander te beroof. Hulle lê en wag voordat hulle uitspring en daardie mense seer maak.”

Nog ‘n inwoner, Erna Hess, sê dis nie net ‘n veiligheidskommer nie, maar ook ‘n gesondheidsprobleem. Verlede winter het rioolwater in die gate gevloei wanneer dreine oorspoel. “Die water het grasgroen geword, hoewel dit destyds omhein is,” onthou Hess.

Konstruksieholte met groen water en rommel wat tydens bouwerk versamel het
‘n Konstruksieholte waar water “grasgroen geword het” en rommel versamel – soos inwoner Erna Hess dit beskryf.

Die bejaarde vrees dat haar motor in ‘n gat sal beland. “‘n Motor het sowat twee weke gelede in só gat geval.”

Sy beweer Asla, die kontrakteur, het te diep gegrawe, wat vertragings veroorsaak het. Verder af is die projek ook ‘n pyn vir Bosduif-inwoners, waar slaggate reeds in herstelde gedeeltes verskyn.

Motor wat in oop konstruksie opgrawing beland het in Sercor-rylaan
Die soort voertuigvoorval wat inwoners in Sercor-rylaan vrees – ‘n motor wat in ‘n oop opgrawing beland het.

De Lange en Hess sê hulle het hul frustrasie aangemeld, maar niks is gedoen nie. De Lange beweer die wyk-100 raadslid, Sean Stacey, gee meer om vir sy kiesers in Gordonsbaai.

“Wanneer gaan hy sy sokkies optrek en hierdie area in orde kry?” vra sy.

Stacey betwis die inwoners se bewerings. “Aan die ander kant – die inwo­ners van Gordonsbaai sê ek fokus te veel op ander woonbuurte. ‘n Mens kan nie wen nie,” sê hy.

Hy sê inwoners moet bewys lewer van hoe ander gebiede bevoordeel word.

Oor Broadlandspark se klagtes sê hy: “Ek het net een ontvang, nie honderde nie.”

Hy verduidelik sy rol is toesig oor die projek en hy kan nie die kontrakteur dwing om werk behoorlik te doen nie.

Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het erken die projek ondervind vertragings weens uitdagende grond- en weerstoestande en bestaande ondergrondse dienste. “Werk in Bosduifweg en Sercorrylaan is doelbewus vertraag om toegang tot inwoners se eiendomme te behou,” sê hy. “Die Stad erken dat hierdie gemeen­skapsgefokusde benadering vordering vertraag het.”

Badroodien betwis egter dat uitgra­wingsdieptes tot vertragings gelei het. “Daar is geen voordeel om dieper as nodig te grawe nie.”

Hy erken uitdagings met diefstal en vandalisme van veiligheidsmateriaal, maar sê betonversperrings beheer voertuigbeweging terwyl heinings voet­gangers­ beskerm. “Die Stad is nie bewus van enige misdadige aktiwiteite wat met die terrein verband hou nie,” sê hy.

Oor gesondheidsrisiko’s sê hy Asla het opgrawings deur ontwatering volgehou, met ‘n twee weke onderbreking, wat hervat is. Die Stad waarsku inwoners om besoedelde water te vermy. “Alle opgrawings sal behoorlik herstel word voor voltooiing.”

Asla sê hy is tans gefokus op die voltooiing van die laaste 300 m-pyplyn en padherstel. “Inwoners was geduldig en begripvol tydens die komplekse konstruksieproses,” sê die kontrakteur.

Asla erken dat diefstal en vandalisme ‘n probleem is en bende-aktiwiteite werk beïnvloed, en doen ‘n beroep op inwoners om vermiste versperrings aan te meld.

Die kontrakteur erken een voertuigvoorval waar ‘n motor ná ure in ‘n konstruksie-afdeling beland het, maar sê dis nie by hulle of die polisie aangemeld nie. “Inwoners se vrese dat winterreën konstruksie-uitgrawings sal oorstroom, is ongegrond,” sê Asla.

Die groep verseker dat werke sal voortduur ongeag die seisoen.

Asla sê die pypleidinglegging is 96% voltooi met beplande voltooiing teen Julie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article