Die Strand-polisie en die gemeenskap het verlede Woensdag (25 Maart) tydens ‘n imbizo by die Rusthof Primêre Skool saamgestaan teen bendegeweld en alkoholmisbruik, wat die gebied teister.
Die vergadering is gehou met die doel om die voorkoming van geweld in die gemeenskap te bespreek en oplossings te vind.
Tydens die imbizo is dit uitgelig dat sektor 1 verantwoordelik is vir die meeste misdade in die polisiegebied. Hierdie sektor sluit in Broadlands Park, Gustrouw, Southfork, Casablanca en Rusthof.
Casablanca en Rusthof is veral kommerwekkend geïdentifiseer – weens dwelms en bendegeweld.
Dit volg op ‘n bendeverwante steekvoorval in Maart, wat een slagoffer geëis het en twee ander hospitaal toe gestuur het – as gevolg van ‘n beweerde bendegeveg in Casablanca (“Drie met messe gesteek“, DistriksPos en Helderberg Gazette, 18 Maart).
Die Strand-polisie het die gemeenskap en veiligheidsorganisasies bedank vir hul bystand wat tot die inhegtenisneming van twee verdagtes gelei het. Die polisie het belowe om voort te gaan om werk te maak van bendeprobleme in al die betrokke woonbuurte.
Die polisie het ook die oorsake van misdaad in die gebied uitgewys, waaronder onwettige alkoholverkope, dwelms, gevaarlike wapens en onwettige vuurwapens.
Hierdie probleme spruit voort uit bendeaktiwiteite, insluitend die werwing van jeugdiges en die wegsteek van dwelms in huise. Die vergadering het ook alkoholmisbruik as die hoofbron van hierdie probleme uitgewys.
Die polisie takel ook kontakmisdaad deur die probleem van dronkenskap ter plaatse uit te lig, aangesien ‘n dronk slagoffer nie ‘n verklaring aan beamptes kan gee nie.
Tekortkominge in die regstelsel en gemeenskapsonstabiliteit is as verdere uitdagings uitgewys.
Om hierdie probleme die hoof te bied, is verskeie oplossings tydens die vergadering voorgelê. Dit sluit in ‘n oproep om die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die maatskaplike ontwikkelingsorganisasie, Badisa, te betrek.
‘n Voorstel vir ‘n werksessie oor ouervaardigheid is ook ingedien om in die gemeenskap te help herstel “wat gebreek is” .
Die gemeenskap het die belangrikheid van beter kommunikasie beklemtoon. Om dit baas te raak, is ‘n omvattende kontaklys aan die gemeenskap verskaf, sowel as radio’s vir buurtwagvoorsitters vir vinniger toegang tot die polisiekantoor.
Die gemeenskap kan die volgende nommers gebruik:
• Kolonel Jaqui Johnson, stasiebevelvoerder vir gemeenskapsprobleme: 082 469 2574;
• Luitenant-kolonel Noxolo Patience Rulwa vir alle sigbare polisiëringskwessies: 082 778 7341;
• skofbevelvoerder: 082 850 9628; en
• speurders: 082 469 3359.



