Meer as 100 stukke onwettige seekos – van Weskuskreef tot perlemoen – is Woensdag 18 Maart by ‘n huis in Strand ontdek, waarna die eienaar in hegtenis geneem is.
Volgens die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdienste het die Mariene- en Omgewingseenheid ‘n gesamentlike optrede met die departement van bosbou, visserye en die omgewing sowel as Kaapse Natuurbewaring uitgevoer nadat hulle inligting ontvang het oor kreef wat uit ‘n huis in Rusthof verkoop word.
Met hul aankoms het lede van al drie dienste ‘n inspeksie uitgevoer. Hulle het sakke in ‘n vrieskas gekry, wat 40 Weskus-kreefsterte, 15 heel Weskus-krewe sowel as 21 alikreukels, drie silwervisse, 26 heel perlemoene asook ontdopte perlemoene bevat het.
Die verdagte is na die Strand-polisiekantoor geneem.




